Van den Berg trotseer die Argus
Die welbekende Cape Argus Pick n Pay Momentum Cycle Tour het die afgelope naweek fietsryers na hul asems laat snak. Vir diegene wat gedink het dat hierdie toer net oor die “survival of the fittest” gaan, is daar ‘n verrassing.
Die welbekende Cape Argus Pick n Pay Momentum Cycle Tour het die afgelope naweek fietsryers na hul asems laat snak. Vir diegene wat gedink het dat hierdie toer net oor die “survival of the fittest” gaan, is daar ‘n verrassing.
Steelburger/Lydenburg Nuus het by een van die deelnemers, Thinus van den Berg, gaan aanklop om te hoor wat presies dié gesogte wedren behels en hoe hy die 109km-roete ervaar het.
Dit was die tweede keer dat hy deelgeneem het, en vanjaar het 14 ander Lydenburgers ook die Kaapse weer trotseer – en Van den Berg nogal op ‘n bergfiets.
Alhoewel ‘n sterk wind van 30 tot 45km/h voorspel is, kon niks die sowat 35 000 deelnemers se entoesiasme demp nie. “Ons het die weer goed dopgehou en ek was aanvanklik skrikkerig vir die voorspelling, maar nadat ek deur die ekspo gestap het, was ek meer gereed as ooit vantevore. Dis hier waar mens regtig lus raak vir die uitdaging,” het hy vertel.
Alhoewel Van den Berg net na 07:00 in die T-groep weggetrek het, moes hy reeds om 05:30 Durbanville verlaat om sy plek te verseker. “Ek het op die snelweg besef dat daar ‘n sterk wind was en is kort-kort daaraan herinner toe die kar met tye behoorlik daardeur geruk is. Ons het eindelik veilig aangeland, en ek het die laaste paar verstellings aan my fiets gedoen en in die wegspringblok gaan wag. Dit was effens koud, maar om al die ywerige deelnemers daar te sien, was beslis die moeite werd. Dit het my sommer nuwe krag gegee,” het hy gesê.
Maar slegs 200m nadat hulle weggetrek het, het hulle besef dat dit beslis nie ‘n maklike wedren sou wees nie. “Dit het gevoel asof ek in ‘n muur vasgery het met die wind direk van voor. Ek het probeer om in die bondel te kom, maar teen die tyd wat ek die piek van Edinburgh bereik het, het ek besef dat dit baie moeilik sou wees om binne vier uur klaar te maak.”
Maar Van den Berg het hom nie daardeur laat stuit nie en het verwoed na Simonstad getrap. Op pad daarheen het hy ‘n paar ernstige ongelukke teëgekom waar fietsryers strawwe beserings opgedoen het, maar het gelukkig ongedeerd verby gery. “Dit was beeldskoon langs die strand en ek het my verwonder aan hoe mooi alles was.” Nog ‘n opdraende het die fietsryers ingewag op pad na die Smitswinkel, maar gelukkig is hulle beloon met wind van agter. “Ek kon vinnig ry en was dankbaar vir die wind wat aan my kant was,” het hy vertel.
Die wind was egter nie die res van die resies gunstig nie, en net voor Chapman’s Peak moes fietsryers weer trap vir al wat hul werd is. “Ek het weer in die bondel probeer bly, maar kon gelukkig tyd maak om rondom my te kyk en die natuur te geniet. Chapman’s Peak was soos oudergewoonte asemrowend.”
Met verwondering het Van den Berg nuwe krag gekry en dié opdraende in ‘n japtrap kaf gedraf. “Ek het gedink daar is nog ‘n stewige klim, maar toe ek my oë uitvee is ek klaar met hom”, vertel van den Berg.
Hy het gesê dat die ondersteuning by die waterpunte asook by Suikerbossie opvallend was, en dat hy besef het dat daar slegs een opdraende en ‘n laaste 15km tussen hom en die wenstreep was. Met ‘n hart wat oorloop van dankbaarheid, het hy in die gewensde vier uur, in ‘n tyd van 03:45, oor die wenstreep gesnel. “Dit was ‘n wonderlike wedren en ek sal dit definitief weer doen, maar nie met my 29” bergfiets nie.”
Hy was wel bekommerd oor die veiligheid van sy vriendinne wat ook deelgeneem het, maar was verheug toe almal veilig die wenstreep oorsteek, en dit in goeie tye. Van den Berg het ‘n week voor die tyd ook die 55km Cape Argus Pick n Pay Momentum Mountain Bike Challenge afgelê en hiervoor ‘n spesiale toekenning verwerf. “Dit was nét so lekker wedren en alhoewel die ‘single tracks’ stowwerig was, was dit beslis beter as die laaste twee modder-wedrenne waaraan ek deelgeneem het”.
Lydenburg se immergewilde fietsryer, Willie Smit, wat tans vir ‘n Italiaanse span, Vini Fantini-Nippo, ry, het 18de geëindig nadat hy een kilometer voor die einde teen die motorfietskamera vasgery het. Smit het in Februarie tydens die Dubai-toer die “most combative rider’-trui verower. Die Cape Argus is deur Nolan Hoffman van Team Abantu en Cherise Stander van Team RECM gewen. Hoffman het die wedren in ‘n tyd van 02:39:01 voltooi, en Stander in ‘n indrukwekkende 02:51:00.
