Steval Pumas sweet vir tweede oorwinning
Die oud-Outeniekwaspeler, Justin van Staden wat deesdae vir die Steval Pumas uitdraf, het Saterdag op Mbombela in die 81ste minuut die wenpunte aangeteken.

Dit nadat die tuisspan met 22-20 teenoor die Blou Bulle die veertjie in die hoed gedra het.
Dit was die tweede Vodacombeker-sege vir die Pienkes en die tweede
loesing vir die Pretorianers.
Die Pumas het die wedstryd op die agtervoet begin, deur twee van vier lynstane in die eerste drie minute te verloor én ‘n aanslaan daarna. “Die lynstane was swak ingegooi en daar is geen verskoning
daarvoor nie,” het die breier, Jimmy Stonehouse gesê.
Daarna het dit gelyk asof die Pumas die Bulle se horings wou afkap amper net soos hulle die Valke se vlerke geknip het. ‘n Strafskop is met die akkurate skopstewels van JC Ross toegeken wat die vlaggies laat lig het. Die 105-kg agsteman, Renaldo Bothma het oor die lyn vir die eerste en enigste drie van die wedstryd geduik. Roos het in
die 22ste minuut met nóg ‘n strafskop geslaag. ‘n Puma-voorsprong van 16-0 met rustyd, het Mbombela breëbors en op hul voete gehad.
Die Bulle se nuwe afrigter, Nollis Marais moes hard met sy span gepraat het, want sommer vroeg in die tweede helfte het David Bullbring ‘n vyfpunter aangeteken. Louis Fouché het met sy skopvoet dit verdoel en daarna óók met twee strafskoppe geslaag wat die
puntetelling na 16-13 opgeskuif het.
Die Pumas het min gebiedsvoordeel in die tweede 40 minute gehad en eers in die 65ste minuut by die Bulle se 25m-lyn gaan
kuier. Fouché het daarna ‘n strafskop afgestaan waarna Van Staden die Pumas se telling weer met ‘n geslaagde skop laat rek het.
Die Bulle het fase na fase vasgebyt om uiteindelik in die laaste 10 minute van dié rillerstryd deur die Pumas se rotsvaste verdediging te breek met Jesse Kriel wat ‘n vyfpunter aangeteken het en so sy span vir die eerste keer laat voorloop het.
Van Staden het egter in die doodsnikke van die wedstryd die Bloues uitoorlê deur met ‘n strafskop die wenpunte aan te teken.
Sabelo Nhlapo het harsingskudding opgedoen, Roos is met ‘n bloedbesering en kaptein Corné Steenkamp is met ‘n kuitspierkramp van die veld af. Albei die spelers sal egter gereed wees om
eerskomende naweek die Griffons in Welkom te pak.
Puntemakers Steval Pumas 22 (16)
Drieë: Renaldo Bothma. Doelskop: JC Roos. Strafskoppe: Roos (3).
Justin van Staden (2).
Blou Bulle 20 (0)
Drieë: David Bullbring, Jesse Kriel. Doelskoppe: Louis Fouché (2). Strafskoppe: Fouché (2).
Voorwedstryde
• Laerskool Bergland 24 – Laerskool Kragbron 5 (o/11).
• Laerskool Bergland 30 – Laerskool Kragbron 0 (eerste).
