Plaaslike rugbyklub sê vaarwel aan hul toegewyde afrigter
Ons sê met hartseer totsiens aan die Malelane Rugbyklub-afrigter, Riaan Pienaar en sy regterhand, Zelda.

Riaan se loopbaan neem hom nou na KwaZulu-Natal, maar hy wil hê die klub moet voortgaan en die gemeenskap wys waarvan hulle gemaak is.
Die paartjie het die volgende boodskap aan spelers en aanhangers
oorgedra: “Hiermee wil ons vir al die spelers, borge, ondersteuners en
vriende baie dankie sê vir al julle liefde, omgee, hulp en bystand gedurende die tyd wat ons in die gemeenskap gewoon het en by Malalane Rugbyklub betrokke was.
“Die afgelope paar jaar het ons soos ‘n groot familie geword en ons gaan
julle vreeslik baie mis. Ons het ‘n pad met die spelers gestap en hulle het diep in ons harte ingekruip.
Elkeen van julle het spore in ons harte getrap. Party dae was moeiliker as ander en ons het baie kop gestamp, totdat almal op dieselfde bladsy was en dieselfde droom en visie gedeel het.”
Die klub se geskiedenis kan definitief hiervan getuig:
• 2009 – Malelane is 9de op die punteleer
• 2010 – Wen die onderste 5-liga
• 2011 – Eindig 3de
• 2012 – Eindig 2de
• 2013 – Aangewys as beste klub, 1ste in die Laeveld en 2de in Mpumalanga.
“Ek wil vir oulaas ‘n versoek aan al ons spelers rig om aan te hou speel. As dit in jou bloed is wil jy tog nie by die huis sit en niksdoen nie?
“Ek weet ek was ‘n baie harde en streng afrigter maar die resultate
spreek vanself en ons het saam ‘n wen-kultuur gekweek. “Ons is ‘n rugby-familie en kan nie nou gaan lê nie. Ons gaan definitief nie nou al ons harde werk in die water gooi nie. “Ons is wenners en beter as enige ander span in die Laeveld, maar dis nou tyd dat ons moet saamstaan en wys wat in ons steek. “Al is ons nie meer in Malalane nie, bly julle ons baie na aan die
hart. “Daar is geen ander klub soos dié nie, en daar is ook geen ander plek
waar julle moet of kan gaan speel nie.
“Ons gaan weg met die troos dat julle sal voortgaan en ons weet die gemeenskap sal julle nie net los nie. Hulle sal, soos in die verlede, by die spelers staan en hulle elke Saterdag op die veld ondersteun.
“Ons het baie goeie spanlede maar hulle het ondersteuning nodig.
“Hou Malalane se naam hoog soos net ons gemeenskap dit kan doen!”
