Skool bied suksesvolle kampioenskappe aan
Laerskool Lydenburg het vir die eerste keer die voorreg gehad om die Mpumalanga Atletiekkampioenskappe op 8 Maart aan te bied.

Ongeveer 304 van die provinsie se top- atlete het deelgeneem waarvan
38 van Laerskool Lydenburg was. Atlete moes egter eers vier uitdunne deurstaan en kwalifiserende tye, afstande en hoogtes trotseer voor hulle ‘n plek in die Mpumalanga-span kon kry.
Dit was egter nie ‘n maklike taak nie. Reën en sterk wind het dit moeilik
gemaak, maar organiseerders, beamptes en sportsterre se entoesiasme het die deurslag gegee en hulle kon daarin slaag om die byeenkoms suksesvol af te handel.
Drie leerlinge van dié laerskool: Tiaan Pretorius, Zimele Sibanyoni
en Marius Nel het vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gekwalifiseer.
Pretorius gaan aan die 80m-hekkies, 200m-hekkies en hoogspring vir seuns/13 deelneem terwyl Sibanyoni en Nel in die 70m-hekkies vir seuns/10 teen mekaar te staan sal kom.
Nel sal ook aan die verspring item deelneem en is tydens die Mpumalanga-uitdunne as baanatleet van die dag aangewys. Die drie atlete neem die
naweek in die Paarl deel.
“Dit was lekker om vir die hele provinsie te wys wat in ons steek. Hulle was beïndruk met die professionele wyse waarop ons die byeenkoms aangebied het,” vertel die organiseerders.
Die skool bedank graag die volgende borge: Imas vir die medaljes, Bilnor vir die sertifikate en pette, BUCO vir die programme, Hana’a vir die personeelhemde, trofees, kragopwekkers asook middagetes vir die beamptes, Hoërskool Lydenburg vir die gebruik van hul velde en fasiliteite, Samancor vir ambulans- en mediese dienste en mnr. Jaco Coetser vir die waterkar. “Julle het ons hande sterk gemaak en sonder julle sou die byeenkoms nie so ‘n groot sukses gewees het nie. Dit was die eerste keer wat ons skool dit aangebied het, maar beslis nie die laaste nie.”
