Nellies se atlete ryg die prestasies in
Die spogkas in Hoërskool Nelspruit se ingangsportaal het skaars plek vir nog trofeë - 'n rekordgetal van 26 atlete het die skool die afgelope naweek by die Mpumalanga-kampioenskappe in Secunda verteenwoordig.

Altesaam 10 dogters en 16 seuns het provinsiale kleure vir atletiek verwerf. Norbit Ponisammy seuns/16 wat in seuns/17 moes deelneem, het ‘n 10,91sek in die 100m gehardloop. Hy het ook in die verspringput met ‘n sprong van 6,83m geseëvier.
Claire Sparrow (dogters/15) het Kristen Raath se rekord in die driesprong, wat op 10,02m gestaan het, na ‘n puik 10,44m verbeter. Sy het ook in die 100m (12,80sek) en 200m (26,95sek) uitstekend gevaar. De Villiers Basson (seuns/15) is vanjaar ‘n dubbele Mpumalanga-kampioen. Hy wen die 200m (23,38sek) én 400m (53,09sek).
Gronighan Grobler (seuns/17) is twee goue medaljes ryker: sy 800m-tyd was 1:56,70 en hy palm ook die 400m-titel (met ‘n 50,91 sek) in.
Madri Wiid (dogters/19) sluit haar Mpumalanga-seisoen eweneens op ‘n groot hoogtepunt af, nadat sy haar soveelste oorwinning in die 1 500m (4:54,55) en 3 000m (10:45,93) behaal het. Ander goeie uitslae was die van Marnus van der Merwe (seuns/17 skyfwerp – 52,29m), Werner Bouwer (seuns/17 spiesgooi – 62,25m), Stephan van den Bank (seuns/15 spiesgooi – 57,49m), Monique MacDonald (dogters/17 hamergooi – 38,58m) en Henco Pieters (seuns/15 skyfwerp).
