Local sportSport

Pumas ryg hul derde sege in

Die Steval Pumas het die naweek vir 'n opskudding in Welkom gesorg toe hulle met 'n weghol-oorwinning van 69-5 met die Down Touch Griffons in die derde kragmeting van die Vodacombeker-reeks afgereken het.

Nie minder nie as 10 drieë is deur die Laevelders ingeryg met Uzair Cassiem, Jerome Pretorius en die nuweling Ruwellyn Isbell wat elkeen twee gedruk het. Die oorwinning plaas die Pumas steeds boaan die punteleer, maar die GWK Griekwas se sege van 68-13 oor die Limpopo Blou Bulle plaas hulle gesamentlik met 13 punte eerste. Spelers wat
uitgeblink het, was die kaptein Corné Steenkamp, Bernardo Botha, Brian Shabangu en Justin van Staden. JC Roos was suksesvol met sewe doelskoppe en ‘n strafskop terwyl Van Staden ook ‘n drie verdoel het.
Roos is na die week steeds die voorste puntemaker van die reeks met 44 punte met Jerome Pretorius in derde plek as die voorste drieëdrukker.
Dit is juis dié twee spanne wat Vrydagaand kop aan kop gaan veg vir die posisie boaan die punteleer en daar word verwag dat dit ‘n groot stryd gaan wees.
Vrydagmiddag se wedstryd teen die Griffons was sekerlik een van die beste Puma-vertonings van die seisoen. Alhoewel die voorspelers ietwat in die skrums gesukkel het, was die verdediging en taktiese spel van die Pienktruie ongelooflik goed. Roos het met sy skopvoet die opposisie
omtrént met akkurate lynskoppe rondgejaag, maar ook met goeie balverspreiding sy agterlyn aan die gang gekry wat elke keer afgerond het wanneer hulle in die
opposisie se helfte was.
“Daar was egter nog geleenthede waar ons met
besluite wat te vinnig geneem is, verbrou het, maar ek is heel gelukkig met die
manne se vertoning. Die drie van Tertius Maarman was bloot ‘n les vir ons om vir
80 minute te konsentreer en tot die fluitjie blaas, te speel. Vrydagaand sal ons
egter vir 90 minute voluit moet speel, want ek glo dat die Kimberley-manne ‘n
punt wil kom bewys,” noem ‘n breëbors Puma-breier, Jimmy Stonehouse.
Spelers
wat ook goed vertoon het, was die loskopstut Vincent Koch met ‘n hele paar
kraglopies, Renaldo Bothma, Dewald Pretorius en die heelager JW
Bell.
Vrydagaand se wedstryd sal weereens op SuperSport uitgesaai word en
skop om 19:10 af. Gister teen druktyd kon daar nog nie bevestig word of daar
enige voorwedstryde gespeel sal word nie.
Kaartjies is reeds by die stadion
en alle Computicket-kantore beskikbaar.
Die Puma-braaipark is weereens oop
en as jy van 16:00 af jou eie vleis en gasbraaier bring, kan daar voor die
afskop gees gevang word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button