Plaaslike ryers geniet die Argus
Die 36ste Cape Argus Pick n Pay Momentum-marathon het Saterdag 9 Maart in die Kaap plaasgevind.

Sowat 35 000 fietsryers het vanjaar deelgeneem, waarvan heelwat slegs besoekers aan Suid-Afrika is.
Tien van Komatipoort se fietsryers het vanjaar die taai wedren die stryd aangesê, met die wind, teen ‘n spoed van 45km en selfs 50km per uur as hul grootste opponent.
Dit het egter nie die gees gedemp nie en ryers was vasbeslote om hulself te geniet. Nolan Hofmann van Team Abantu was die wenner van vanjaar se wedren, terwyl Cherise Stander in die elite vroue-resies geseëvier het. Dit was haar derde wen. Sy was ook die wenner in 2009 en 2011.
Haar man, die bekende bergfietsryer Burry Stander, is oorlede nadat hy verlede jaar deur ‘n taxi tydens ‘n oefensessie in Shelley Beach in KwaZulu-Natal omgery is.
Die plaaslike deelnemers was Willem en Elmarie Blom, Kobus Opperman, Piet Smith, Frans van Dyk, Arthur en Melodie Oosthuizen, Theo en Magda Stronkhorst en Mel Stronkhorst.
Van Dyk het die wedloop in ‘n uitstekende tyd van drie uur en 56 minute voltooi. Die Oosthuizens het vertel: “Dit was ‘n wonderlike ondervinding.
“Die wind het dit bietjie moeilik gemaak, maar ons het dit vreeslik geniet. Ons gaan dit verseker weer doen!” Die egpaar het in ‘n tyd van 5:29 klaargemaak.
