Hoërskool Nelspruit puik in Tuks-skolereeks
Die gesogte Tuks-skolereeks het hierdie week na Nelspruit geskuif waar Nelspruit Hoërskool teen Marais Viljoen in die derde ronde deelgeneem het.

Die besoekers was egter nie so suksesvol op die rugbyveld nie, siende dat al hulle spanne ‘n drag slae ontvang het. Die tweede en derde spanne het hulle onderskeie wedstryde met weghol-oorwinnings gevier, met tellings van 67-0 en 76-7 onderskeidelik.
Die eerstes het bietjie meer opposisie gehad, maar kon steeds met ‘n 21-12-oorwinning uit die stryd tree. Die junior spanne het al hulle wedstryde gewen met die onderskeie tellings soos volg: o/14-A (51-0), o/14-B (46-0), o/15-A (10-5), o/15-B (26-12) en die o/16-A-span het met 32-7 gewen.
Vir die besoekers se hokkieseuns was dit egter ‘n lang dag op die veld. Die o/14-A-span het met 8-0 gewen en die o/15’s met 6-0, terwyl die eerstes se kragmeting geen telling opgelewer het nie. Al die Nelspruit-meisieshokkiespanne het onoorwonne van die veld gestap met die tweedes wat ook ‘n telling van 6-0 behaal het. Die uitslae was soos volg: o/14-A – 1-0, o/14-B – 3-1, o/15-A en -B – 3-0, o/16-A – 4-1 en die B-span 2-0.
Nelspruit se eerste-meisiesspan het met hulle opponente gemors deur 5-0 te wen. Dit was egter net op die netbalbane waar die besoekers darem ‘n wedstryd of twee kon wen. Slegs die o/14-A (14-18), o/16-A (20-26), o/17-A (5-21) en o/18-B (13-19) van Nelspruit kon nie oorwinnings behaal nie.
