Groot telling word op Limpopo verwag
Die naweek se Steval Pumasspan wat in die vyfde Vodacombekerstryd in Polokwane teen die Assupol Limpopo Blou Bulle gaan uitdraf is 'n goeie kombinasie van jongmanne en ervaring.

Maar een ding is verseker, beweeglikheid en spoed op die punte gaan aan die orde van die dag wees en met die spankeuse is daar net een voorspelling… nog ‘n rekordtelling.
Ja, verlede jaar het dié einste Lipopomanne deurgeloop in die liga en het die Pumas ‘n rekord vir die eerste-divisietellings opgestel na hulle die besoekers met 154-0 kaf gedraf het.
As daar na Jimmy Stonehouse en MJ Mentz se spankeuse gekyk word, is hardlooprugby weer gewaarborg.
Marcello Sampson, die spoedvraat van die Oos-Kaap, sal sy eerste buiging in die Pumatrui na ‘n skouerbesering maak. Saam met hom op vleuel is die veteraan, Ashwin Scott wat ook van sy skouerbesering herstel het. Die span sal deur die ervare Jaco Bouwer aangevoer word.
Nog ‘n eerste buiging in die Pumatrui word deur die voormalige o/21 skrumskakel en vleuel Johan Pretorius en Phule Sibiya gemaak en die klubspeler, wat al maande saam met die span oefen, Marko Kruger, sal ook heel mootlik sy buiging maak.
“Ons het besluit om van die spelers ‘n welverdiende ruskans te gee en die res van die groep ‘n speelkans te gun vir die kragmeting. Dit beteken nie hulle kan slaplê nie, die werk gaan voort soos elke wedstryddag,” noem Stonehouse.
Nog ‘n verblydende terugkeer tot die speelveld is die slot Rudi Mathee, wat eers vir ‘n rukkie by die Pumas sal vertoef om genoeg wedstrydtyd op te doen, voor hy na die Super 15 Leeus-groep sal terugkeer. Aan slottalent is daar egter geen tekort in die Pumastal nie, siende dat die voormalige SA Skolespeler Ruan Venter deur die Leeus aan die unie geleen is en saam met Mathee die naweek in die skrum sal sak.
Die span is: Ruwellyn Isbell (15), Ashwin Scott (14), Hennie Skorbinski (13), Dewald Pretorius (12), Justin van Staden (10), Reynier van Rooyen (9), Doppies le Roux (8), Brian Shabangu (7), Jaco Bouwer (6) kaptein, Ruan Venter (5), Rudi Mathee (4), DeJay Terblanché (3), Frankie Herne (2) en Sabelo Nhlapo (1). Die reserwes is Jacques Momberg, Stephan Kotze, Marko Kruger, RW Kember, Johan Pretorius, Bernado Botha en Phule Sibiya.
