Groot visstories langs die dam
Dikwels kla Barbertonners, wat tydens skoolvakansies met Jan Tuisbly se karretjie ry, dat daar niks is om die kinders mee besig te hou nie.

Tog, as daar iets aangebied word, skitter baie in hulle afwesigheid.
Groot was die teleurstelling toe dit weer die geval was gedurende ‘n visvangkompetisie wat
verlede Saterdag spesiaal vir laerskoolkinders gereël is.
Bemarking is reeds lank voor die groot dag gedoen. Eienaars van Lovely Jubley, waar die kompetisie plaasgevind het, Steve en Lee Crossley, vertel dat ‘n pa van die skool op ‘n
stadium gevra het dat hulle moet ophou om pamflette te versprei aangesien hy
reeds te veel gehad het.
Die handjievol kinders wat wel opgedaag het – vyf om presies te wees – het hulle gate uit geniet. Een van hulle, Jakes Mattheus, het al die vorige dag geoefen.
Hierdie gesoute visserman van Laerskool Barberton was egter op die dag ongelukkig toe die grotes maar net nie wou byt nie. Barberton Times het bietjie tyd saam met hom spandeer en hy het vir ons visvangstories vertel waaroor ‘n mens boeke kan skryf.
Afgesien van Jakes, wat saam met Pieter Jacobs en Tristin van Vuuren met gewone visstokke deelgeneem het, was daar ook ‘n kategorie genaamd Huckleberry Finn, waarin die deelnemers met tuisgemaakte stokke kon vang.
Daar was slegs een inskrywing naamlik dié van Clarice Nel. Sy het met ‘n riet en lyn die een na die ander vis uitgetrek.
Elke vis wat naastenby gewigtig gelyk het, is ingeweeg. Om 12:00 het die kinders warmbrakke, skyfies, slaai en koeldrank vir middagete gekry en hulle kon nie vinnig genoeg klaar eet om weer te gaan lyn natmaak nie.
Om 02:30 is die pryse, wat bestaan het uit visstokke, ‘n kampstoel, visgereedskap en dies meer, uitgedeel.
Die grootste vis vir die dag was ‘n koi wat deur Pieter Jacobs gevang is. Nodeloos om te sê, het Clarice Nel die dogtersafdeling met haar Hucleberry Finn-stok gewen.
Tristin van Vuuren en ‘n sekere Damian, wat reeds vroeër weg is, het elk ‘n troosprys ontvang.
Jakes het die prys vir die mees entoesiastiese visserman ingepalm.
Die Crossleys sê hulle gaan weer ‘n soortgelyke kompetisie reël en hoop dat Barbertonners dit dan behoorlik sal ondersteun.
Dit is ‘n pretdag, nie net vir die kleingoed nie, maar ook vir die hele gesin.
“Baie dankie aan diegene wat ons Saterdag ondersteun het.
Hoop om julle binnekort weer te sien!”
