Witrivier kraai vroeg in die tweede been van liga koning
Die tweede been van die Mpumalanga Rugbyklubliga het verlede Saterdag met 'n kragmeting tussen Witrivier- en Nelspruit Rugbyklub afgeskop.

Witrivier het eerste op Nelspruit se tuisveld bloed geruik waar hulle uit dié klub se wispelturige begin voordeel kon trek.
Met ‘n telling van 17-0 in die guns van die besoekers teen rustyd, was dit moeilik vir die tuisspan om op te vang.
Witrivier het vir die grootste deel van die wedstryd balbesit asook gebiedsvoordeel gehad. Verskeie pogings om deur dié soliede verdediging te sny, is aangewend.
Drieë is deur Dean Guy en Tjoopi Pretorius aangeteken met slegs een verdoeling deur Nelspruit se vleuel Tiaan Greef. Dit was dus nie genoeg om die wa deur die drif te trek nie en twee geelkaarte het Nelspruit se kanse verder verminder.
Die puntemakers vir die wenspan was Ruhan Barnard met twee drieë en Driaan Barnard en Renier Welman wat elkeen ‘n drie aangeteken het. Tiaan Marx het met twee doelskoppe en ‘n strafskop geslaag. Witrivier het die wedstryd met 27-12 gewen.
Volgens Nelspruit se afrigter, Gunther Swart, is hy gelukkig met die karakter en wilskrag wat sy spanne die naweek op die veld gewys het.
“Met die tipe span gaan ons verseker ‘n goeie seisoen hê en opwindende hardlooprugby speel.
“Dit is wel nog vroeg in die liga en hulle verg nog baie werk, maar fokus word geplaas om dit stelselmatig te verbeter,” sê Swart.
Die volgende kragmeting vind hierdie Saterdag tussen Witrivier en Barberton plaas en Nelspruit sal teen die Rooikatte van Lydenburg speel.
Dit beloof om weereens tonne naelbyt-aksie op te lewer.
