Atlete skitter by afgelope kampioenskappe
'n Naelloper, 'n verspringer, vier langafstandatlete, twee driesprong-, en twee aflos-atlete, sowel as 'n gewigstoter en vier spiesgooiers van die Laeveld het op die Coetzenburg Stadion in Stellenbosch in die onlangse Suid-Afrikaanse Sub-jeug, Jeug en Junior Atletiekkampioenskappe geskitter.

Hoërskool Nelspruit
Stefan van der Bank is as die o/15-kampioen in spiesgooi gekroon nadat hy die spies ‘n uitmuntende afstand van 66,53m laat trek het. In Polokwane by die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskappe het hy sy beste afstand van 67,10m geooi, waar hy ook die nuwe Nellie-rekord opgestel het.
Dit was so byna of Nellies het nóg twee medaljes ryker geword. Dudu Nkosi het ‘n vierde plek in ‘n tyd van 1:58.55 in die 800m vir seuns/15 verower. Die langafstand-atleet, Gronighan Grobler het óók ‘n plek op die podium net-net misgeloop in ‘n tyd van 1:54.56 in die 800m vir s/17.
Wandla Nkosi (vanjaar nog 16, moes dus aan s/17 deelneem) het in die 1 500m uitgeblink toe hy net nie daarin kon slaag om deur die vier-minuut grens te breek nie. Sy tyd van 4:00.34 is egter 13sek vinniger as wat die Nellie-rekord aan die begin van die seisoen was.
Wandla se vyfde plek is ‘n uithalervertoning waarop hy baie trots kan wees.
Ruan Groenewald het ‘n sewende plek in die finaal van die 100m losgehardloop. Hy was 10de in die spiesgooi, waar hy sy persoonlike beste na 51,39m opgestoot het. In die spiesgooi vir s/17, het die 16-jarige Werner Bouwer 53,80m gegooi en algeheel elfde klaargemaak.
Naas Marais het ook getoon dat hy waardevolle ervaring tydens die skole-kampioenskappe opgedoen het, toe hy hierdie keer ‘n agtste plek in die finaal van die gewigstoot (s/15) behaal het, nadat hy die 4kg-gewig op 14,68m
laat grondvat het.
Hoërskool Bergvlam
Maudas Banda (s/17) wen die verspring, met ‘n spogsprong van 7,33m. Dit is sy persoonlike beste afstand en
neem kennis dat dié afstand hom laat kwalifiseer het om aan die einde van Mei in Botswana aan die Afrika-spele te gaan deelneem.
Hoërskool Rob Ferreira
Die spiesgooier, Daniel Bieldt spog met ‘n silwermedalje om haar nek met ‘n afstand van 47,38m in d/17. Sy het in 2013 ook aan die kampioenskappe deelgeneem. Sy wil graag teen volgende jaar die spies oor die 50m-merk gooi. Atletiek is nie haar enigste sterkpunt nie. Sy is ook ‘n kranige hokkiespeler en het boonop provinsiale kleure in gholf verwerf. Sy is ook in die span wat na Botswana toer ingesluit.
Lowveld High
Robin Maile s/17 was deel van die aflosspan wat vierde geeïndig het. Muzi Mapophe was ook deel van die span.
Hy het óók aan die 400m-hekkies deelgeneem waar hy sy persoonlike beste tyd na 52,73sek verbeter het wat hom vierde geplaas het. Die 19-jarige Joy Ndhlovu het ‘n vyfde plek in die verspring verower en Frank Muwayi (s/15) vierde in die driesprong.
Lowveld High se spog-atleet, Lukhanyiso Makaula, het ‘n derde plek op die podium vir s/17 ingeneem met ‘n afstand van 14,08m in die driesprong. Die skool se kaptein, Xumani Maakana, was die seisoen ‘n voorbeeld vir sy mede-atlete en het self uitstekend gevaar. Hy het ook ‘n persoonlike beste tyd van 49sek in die 400m opgestel.
