Vier tennisspelers van NHS neem nasionaal deel
Gedurende die naweek van 28 Maart tot 1 April 2014, het van NHS se topspelers die geleentheid gehad om as lede van die provinsiale (Mpumalanga) span, aan die gesogte Suid-Afrikaanse Skole-toernooi te Pretoria deel te neem.

Jacques Fourie het in die nr.3-posisie, ‘n puik toernooi beleef. Nellies se nr.1 het nie minder nie as vyf van sy ses wedstryde teen van die ander provinsies se nr.3-spelers gewen. Die provinsiale spelers wat hul rieme teen Jacques styfgeloop het, was van Gauteng-Noord, Noord-Kaap, Boland en Oostelike Provinsie. Jacques se vyfde slagoffer was Zimbabwe se nr.3. Die Mpumalanga onder 19-span (waarvan Jacques ‘n lid was), het in die A-afdeling meegeding en twee van hulle drie groepwedstryde gewen. Uiteindelik eindig die span 8ste (uit 16 spanne).
Drie Nellies (Marne van Aarde, Ane van Vuuren en Andre Vosloo) het ons provinsie in die onder 15-afdeling verteenwoordig. Die standaard was geweldig hoog en Mpumalanga moes met die 12de plek (ook uit 16 spanne) tevrede wees.
Die tennisbeen van vanjaar se Tuks-reeks (Super 16) vind vanjaar vanaf 21 tot 23 April in Pretoria plaas. NHS gaan uiteraard weer hard probeer om, soos dit die afgelope paar jaar die geval was, in die top 4 te eindig. Daarna kon die Laeveld-liga aan die beurt, met die eerste wedstryde wat vir Vrydag 9 Mei geskeduleer is.
