Rugbyspan wen gesogte trofee
Die Mauritz Hansen Rugbyweek, beter bekend as die Hansieweek, het verlede week vir groot opwinding gesorg toe sowat 90 spanne op Mookgopong (Naboomspruit) toegesak het.

Dit is die 22ste keer wat dié gesogte toernooi plaasgevind het en Hoërskool Lydenburg se spelers het hulle tande behoorlik vir die geleentheid geslyp.
Dit is die grootste nie-provinsiale rugbyweek ter wêreld volgens die sportorganiseerder van die hoërskool, Otto Schulze, waar skole van Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noord-Wes provinsie meeding. Hoërskool Lydenburg het nie teleurgestel nie en agt van hul 12 wedstryde in die verskillende ouderdomsgroepe gewen.
Die o/15-span het egter vriend en vyand verras deur as die algehele wenner van die o/15-afdeling gekroon te word nadat hulle met 32-15 oor hul teenstaanders van Potchefstroom (Volkskool) geseëvier het.
Dit is die eerste keer in Hoërskool Lydenburg se bestaan dat ‘n span van dié skool die gesogte trofee kon wen. Nog ‘n besonderse prestasie wat die skool te beurt geval het, was toe Jason Oosthuisen as die o/14-agterspeler en speler van die week aangewys is.
Die o/15-span bedank graag Elektro Diesel Steelpoort, Northlite, Thorncliff-myn, Twee Riviere-myn, Zizwe, Leeuvallei Skrootmetaal, Maurice Bezant en Rodney van der Walt asook al die inwoners van Lydenburg wat al die spanne so gereeld bystaan met die blikskud en borge.
