Pumas ryg drieëfees in
Die Steval Pumas is alweer besig om geskiedenis te maak na hulle die 2014 Vodacombeker-ligawedstryde onoorwonne afgesluit het.

Vir ‘n beter einde kon breier, Jimmy Stonehouse nie voor gevra het nie. Saterdagmiddag het die Laevelders in Alberton met die Goue Leeus in ‘n drieëfees afgereken na die liga ‘n paar weke gelede maar op ‘n flou noot teen die Valke begin is.
Van die afskop af was dit net die Stonehouse-troepe op die Albertonse rugbyklubveld. Drie na drie is ingeryg en die Gautengers het geen verweer vir die besoekers se speltempo gehad nie. Die Laevelders het só met hulle spel beïndruk dat hulle hul bonuspunt reeds in die 29ste minuut van die wedstryd met Ruwellyn Isbell se drie, behaal het. Teen rustyd was die Laevelders reeds met 38-5 gemaklik voor na ses drieë teen een.
Dit was duidelik dat die Leeus se breier harde woorde in die kleedkamer gespreek het, want dié het die tweede helfte na ‘n ander span gelyk. Die tuisspan het teruggeveg en vier vinnige drieë ingeryg om die punteverskil te laat krimp, maar dit was hopeloos te laat.
Die Pumas het die wedstryd met 48-27 gewen met twee drieë deur die kookwater-agtsteman Renaldo Bothma, en drieë deur die kaptein Corné Steenkamp, Hennie Skorbinski, Ruwellyn Isbell, Reynier van Rooyen, JC Roos en Giant Mtyanda. Roos se skopvoet het hom bietjie in die steek gelaat en hy kon slegs vier van die agt drieë verdoel. Die Leeus se vyfpunters is deur Selom Gavor, Stephan de Witt, Ruan Lerm, Hugo Kloppers en Ruhan Nel aangeteken. Willie du Plessis kon net een van die drieë verdoel.
Met die eerste 2014-doelwit van die Pumas wat bereik is – om boaan die punteleer te eindig om tuisuitspele te verseker – lê daar hierdie week harde werk voor.
“Ons kan nie nou bekostig om slap te lê nie. Dit was harde werk om hier te kom, nou moet ons die knoop deurhaak!
Die span het aanvanklik met rukke en stote begin, maar ons is nou ‘n geoliede masjien en kan ons net uitsien na die laaste drie wedstryde van die liga,” noem kaptein Corné Steenkamp.
Die eerste van die drie wedstryde wat eintlik saak maak word die naweek reeds hier in die Laeveld gespeel.
Vrydagaand om 16:45 sal die Laevelders gasheer vir die manne uit die Wes-Kaap, die Westelike Provinsie speel en word daar verwag dat die pawiljoene vol pienkspan-ondersteuners sal wees. Kaartjies is reeds by die stadion en alle
Computicket-kantore beskibaar. Maak seker jy ondersteun die Steval Pumas wat so hard werk om die trots van die Laeveld en provinsie te wees.
