Local sportSport

Jong skeidsregter staan nie vir die manlike geslag terug nie

“Dit was nog altyd interessant om mense dop te hou as hul sien dis ‘n vrou wat gewapen is met ‘n fluitjie langs die rugbyveld” vertel die 17 jarige Gene-Marie Kleyn oor haar passie vir skeidsregter wees.

LYDENBURG –
Kleyn is die enigste kind en het met rugby in die huis groot geword. Haar pa, Francois, was self oor die 20 jaar ‘n skeidsregter en speel tans ook vir die Gryskatte. Dit was dus nie snaaks dat sy in sy voetspore sou volg nie. “Sowat twee jaar gelede het my pa my gevra of ek nie ook wil deel raak daarvan nie en sederdien is ek nie een oomblik spyt nie. Dit is vir my ongelooflik lekker en baie interessant”.

Kleyn vertel egter dat dit nie so maklik is om net ‘n skeidsregter te word nie. “Mens moet aan verskeie vereistes voldoen en daar is gereelde kursusse en eksamens wat afgelê moet word”. Sy was vir ‘n jaar lank vlagman en het later deel geword van die Pumas as “shadow referee”, maar droom daarvan om eendag vir die Blou Bulle te blaas asook die Springbokke.

Sy vertel dat daar langs die veld byna net soveel interessante dinge gebeur as op die veld. “Daar is soveel interessante oomblikke dat ek byna niks kan uitsonder nie, maar ek is al verskeie kere raakgeskop met ‘n stewel en selfs van my voete af geduik”, vertel sy met ‘n glimlag en voeg skaam-skaam by dat sy selfs al hard kennis gemaak het met die doelpale toe sy volspoed oppad was doellyn toe.

Alhoewel sy al verskeie flaters begaan het, meen sy daar is baie dinge wat sy geleer het tydens haar skeidsregterskap. “Daar was met sommige wedstryde op ‘n stadium meer as tien skeidsregters betrokke en voor ek self nie deel geword het daarvan nie, sou ek dit nooit geweet het nie”.

Alhoewel die gebore Vrystater reeds naam begin maak het in die bedryf, voel sy steeds senuweeagtig wanneer sy vir vreemde spanne moet blaas. “Ek het by die Rooikatte begin en hulle ken my al. Ek is dus op my gemak tussen hulle, maar met vreemde spanne weet mens nooit hoe geduldig hulle sal wees nie. Jy kan jou reëls hoe goed ken, maar as jy op die veld is moet jy kophou. Ek hou daarvan om ‘n regverdige wedstryd te sien en niemand teleur te stel nie, maar mens sien nie altyd alles nie”.

Sy meen die belangrikste is om maar net die kommentaar te laat afgly en voeg vinnig by dat dit baie meer ernstig is om te blaas as wat die meeste mense besef. “Daar word gereeld ondersoeke gedoen en voor elke wedstryd wat jy blaas moet ‘n verslag ingedien word waar jy jou swakpunte indentifiseer – dit staan ook bekend as jou game plan. Sou ‘n rooikaart tydens die wedstryd gegee word, moet ook daarvoor ‘n verslag ingedien word”, vertel sy. “Die beste raad wat ek vir toekomstige skeidsregters het, veral vir ‘n vrou, is om selfversekerd te wees. Moenie terugstaan vir ouens nie al voel jy ook geintimideerd. Wees altyd vriendelik en pas die reels toe. Kleyn wil graag kliniese sielkunde gaan studeer en natuurlik voortgaan met haar skeidsregtersdroom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button