Plaaslike talent presteer uitstekend
Drie sussies van Komatipoort se sterre het helder geskitter by 'n geleentheid waaraan duisende jongmense van al die provinsies deelgeneem het.

Die Nasionale Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste, oftewel SA’s vir Kunste, is vanjaar tussen 2 en 14 April in Rustenburg se Burgersentrum gehou. Tydens die onvergeetlike belewenis droom elke deelnemer daarvan om deel van die SA span te wees.
Die verskillende afdelings word verdeel in sang, drama, dans, instrumentale spel, baldans, modelleerwerk en ‘n verskeidenheid items soos ritmiese gimnastiek. Revue-groepe het ook deelgeneem.
Cladia en Amoré Caldeira het hul passies op die loopplank met die modelleerwerk- afdeling geken, wat informele en formele loopplankmodel, sowel as die mees fotogeniese model insluit. Hul suster, Bianca, het mense met haar sang in die vokale afdeling betower en is genooi om aan die gala-aand deel te neem. Sy het aan vyf genres deelgeneem. Elke liedjie het net 90 sekondes geduur waartydens sy haar vermoëns moes ten toon stel.
Deelnemers wat hier presteer het, verwerf erekleure wat deur die departement van onderwys onderskryf word.
Verder kry hulle ook die kans om aan die Wêreldkampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste 2014 in Los Angeles deel te neem met geborgde vliegkaartjies en akkommodasie.
Elaine Grobler, provinsiale direkteur van die organisasie, asook die eienaar van Global Artists, het die trofee vir die meeste provinsiale inskrywings ontvang. “As die provinsiale direkteur is ek trots om Mpumalanga te verteenwoordig.
Ek wil elke deelnemer, onderwyser en skool bedank wat vir die SA Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste 2014 ingeskryf het en ‘n spesiale woord van dank word aan my assistent Leana Pelser gerig.
“Hierdie is waarlik ‘n groot platform vir enige kunstenaar en ‘n gulde geleentheid om talent te ondek en te ontwikkel.”
Navrae: Elaine by 076-9266-111 of data2009.@live.co.za
