Jong skeidsregter staan nie vir die manlike geslag terug nie
“Dit was nog altyd interessant om mense dop te hou as hulle sien dat ‘n vrou met ‘n fluitjie langs die rugbyveld gewapen is,” vertel die 17-jarige Gene-Marie Kleyn oor haar passie om 'n skeidsregter te wees.
LYDENBURG – “Dit was nog altyd interessant om mense dop te hou as hulle sien dat ‘n vrou met ‘n fluitjie langs die rugbyveld gewapen is,” vertel die 17-jarige Gene-Marie Kleyn oor haar passie om ‘n skeidsregter te wees.
Gene-Marie is die enigste kind en het met rugby in die huis grootgeword. Haar pa, Francois, was vir 20 jaar ‘n skeidsregter en speel tans ook vir die Gryskatte. Dit was dus nie snaaks dat sy in sy voetspore sou volg nie.
“Twee jaar gelede het my pa gevra of ek nie ook daarvan wil deel raak nie en sedertdien was ek nie een oomblik spyt nie. Dit is vir my ongelooflik lekker.”
Kleyn vertel dat dit nie so maklik is om een te word nie. “’n Mens moet aan verskeie vereistes voldoen en daar is gereelde kursusse en eksamens wat afgelê moet word.”
Sy was vir ‘n jaar lank vlagman en het later van die Pumas as “shadow referee” deel geword, maar droom daarvan om eendag vir die Blou Bulle asook die Springbokke te blaas.
Sy vertel dat daar langs die veld net soveel dinge as op die veld gebeur.
“Daar is soveel interessante oomblikke dat ek byna niks kan uitsonder nie, maar ek is al verskeie kere met ‘n stewel raak geskop en selfs van my voete af geduik,” vertel sy met ‘n glimlag en voeg skaam-skaam by dat sy selfs al hard kennis met die doelpale gemaak het toe sy volspoed oppad doellyn toe was.
Alhoewel sy al verskeie flaters begaan het, meen sy daar is baie dinge wat sy tydens haar skeidsregterskap geleer het. “Daar was met sommige wedstryde op ‘n stadium meer as 10 skeidsregters betrokke en voor ek nie daarvan deel geword het nie, sou ek dit nooit geweet het nie.”
Alhoewel die gebore Vrystater reeds naam in die bedryf begin maak het, voel sy steeds senuweeagtig wanneer sy vir vreemde spanne moet blaas. “Ek het by die Rooikatte begin en hulle ken my al. Ek is dus op my gemak tussen hulle, maar met vreemde spanne weet mens nooit hoe geduldig hulle sal wees nie.
Jy kan jou reëls hoe goed ken, maar as jy op die veld is, moet jy kophou. Ek hou daarvan om ‘n regverdige wedstryd te sien en niemand teleur te stel nie, maar mens sien nie altyd alles nie.”
Gene-Marie meen die belangrikste is om maar net die kommentaar te laat afgly en voeg vinnig by dat dit baie meer ernstig is om te blaas as wat die meeste mense besef. “Daar word gereeld ondersoeke gedoen en voor elke wedstryd wat jy blaas, moet ‘n verslag ingedien word waar jy jou swakpunte indentifiseer – dit staan ook as jou game plan bekend.
Sou ‘n rooikaart tydens die wedstryd gegee word, moet daar ook daarvoor ‘n verslag ingedien word,” vertel Gene-Marie. “Die beste raad wat ek vir toekomstige skeidsregters het, veral vir ‘n vrou, is om selfversekerd te wees. Moenie vir ouens terugstaan nie al voel jy hoe geïntimideerd.
Wees altyd vriendelik en pas die reëls toe. Sy wil graag kliniese sielkunde gaan studeer en natuurlik met haar skeidsregtersdroom voortgaan.
