Spelers trek op die setperke saam tot voordeel van seniors
Gholfers het die afgelope naweek hul stokke geswaai ten bate van senior burgers in die dorp tydens die Dienssentrum se jaarlikse gholftoernooi.

LYDENBURG – Dié nie-winsgewende organisasie het sy deure op 15 Februarie 1994 geopen met die doel om senior burgers se lewe te verryk op verskeie wyse. “Ons doel is om bejaardes aan die gang te hou”, vertel Me Elsa Bester terwyl sy al die aktiwiteite opnoem wat die Dienssentrum bied.
Bester is al 11 jaar by die Dienssentrum betrokke en verantwoordelik vir die instandhouding asook die rondkarwy van lede tydens uitstappies. “Ek geniet dit werklik om hier betrokke te wees en net mooi alles is lekker”, vertel sy met ‘n glimlag.
Fondse, soos dié wat tydens die gholfdag gein word, word onder andere gebruik om uitstappies en aktiwiteite te help finansier vir die senior burgers, wat self onderhoudend is, asook om verskeie dienste te lewer teen bekostigbare pryse.
Die dienssentrum bied onder andere ‘n vervoerdiens aan, wat ook een maal per maand bejaardes na Nelspruit neem en lê af en toe besoek af by die Kruger Nasionale Park.
Daar is verder wasgeriewe, ‘n biblioteek, eetsaal asook bybelstudie en ‘n kliniek waar bloeddruk geneem word en griep inspuitings toegedien kan word. Daar word ook gereelde kunsprojekte aangbedied, een maal per maand ‘n DVD gewys asook ‘n boekvoorlesing gehou en asof dit nie reeds ‘n handvol is nie, hou hul hulself besig met straatverkope, toneelopvoerings en neem selfs deel aan “spinning”klasse twee maal per week.
“Die mense is baie bedrywiger as wat baie ooit sou dink, maar ons glo daarin om hulle aan die gang te hou”, lag Bester.
Enige iemand bo die ouderdom van 60 jaar kan by die Dienssentrum aansluit om lid te word en van die voordele te geniet.
Volgens Me Shaunette Erasmus is dit egter nie net lede van die sentrum wat van die geriewe kan gebruik nie, maar alle senior burgers asook die gemeenskap. Die Dienssentrum beskik oor verskeie mediese hulpapparate wat onder andere rolstoele, krukke en looprame insluit wat by die kantoor gehuur kan word. Vir verdere navrae of om betrokke te raak by die Dienssentrum kan Erasmus gekontak word by 013 235 3875.
