Eerste toernooi wen vir plaaslike speler
Die jong gholfspeler Monja Richards (26) van die Nelspruit Buitebaan het haar eerste toernooi van die jaar gewen.

Dit was die Vrystaat en Noordelike Ope-kampioenskappe in Welkom op die Oppenheimer-baan. Sy het die tweede gekeurde vroue-amateur, Carrie Parks, met vyf houe geklop.
Die donkerkop is tans in die vyfde plek op die Suid-Afrikaanse Vroue Senior rangorde. Sy vertel dat sy nie so goed gevaar het soos sy wou nie, maar dié wen is ‘n groot motivering vir die res van die seisoen. “Ek was nie in die groep vir die All Africa
Challenge ingesluit nie en ek voel ek moes daar gewees het. Met dié wen het ek nie net aan myself bewys dat ek in die span hoort nie, maar ook aan die keurders.”
Richards sê dat die baan nie in ‘n goeie kondisie was nie, veral die setperke was vol gate en die res was ook baie hobbelrig. “Ek het vroeg in April aan die Sanlam Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in Stellenbosch deelgeneem en 11de geëindig. Dit was een van my grootste toernooie van die jaar.”
Volgende speel sy op Modderfontein in die Gauteng Kampioenskappe. Sy beoog om teen die einde van die jaar professioneel te speel en besluit nog of sy Europa toe gaan om haar toerkaart te kan kry. Sy sal ook graag volgende jaar aan die Sunshine-toernooie wil deelneem. “Ek probeer om aan al die amateurkompetisies deel te neem om punte vir die ranglys op te maak. Ek speel tans van ‘n nul (scratch) af.”
Richards het nog 13 toernooie vir die jaar oor. Haar langspel is tans baie akkuraat, maar haar setstok kort nog werk.
