Local sportSport

Die Rietrot gesels sport

Sien! Die Rietrot het gesê hy hou nie daarvan om voorspellings te maak nie, en daar het hy amper meer as een natsnoek-klap gekry.

Die grootbase by onse Pumas het so seker van hulself geklink dat hulle die wedstryd teen die streeptruie maklik in die sakkie sal steek… En daar sukkel hulle hulleself boeglam!

Die Pienkes speel Vrydag teen die Pou Bloues en dit gaan geen makliker game-pie wees nie.

Die Rot nooi natuurlik al wat leef en beef uit as daar rugby op onse avokado-republiek se stadion gespeel word. Maar het hy nou vir homself Vrydag dood geskaam. Ondersteuners gaan loop soek na jou kaartjie en hoop die Rietrot praat nie nou van jou nie!

Daardie twee drinkebroers – een van julle het ‘n blou fleece-top aangehad en die ander ‘n Springbok-baadjie (julle het in blok A27, ry nege en 10 op stoele 103 en 104 gesit) – julle het die aand darem nou maar onaangenaam gemaak. Die Rietrot het naderhand nie geweet waar om te vat of te los nie – moet hy sy sensitiewe oortjies vir jul gevloekery en laster toedruk, of moet hy julle ‘n klap gee? Daar is soos actually kinders en vroue wat graag gerespekteer wil word. Gaan suip en vloek in jou karavaan waar niemand jou hoor nie!

Aije! Die bussie wat met Sivutsa Stars-plakkers opgedollie is, gaan binnekort nie meer in die dorp te sien wees nie. Dié sokkerspan is aan ‘n ryk mannetjie in Durban verkoop. Hulle verhuis dus see toe. Dit is taamlik hartseer – dit was immers Nelspruit se sokkerspan. Glo dit of nie, verlede jaar se wedstryd tussen daardie geel span en Wits wat op Mbombela gespeel is, was uitverkoop. Daar was nie een enkele vieslike grys sitplek oop nie.

Die Springbokke speel een van die dae teen die Drake en dan kan die stadion skaars half volgemaak word… Dit is ‘n skande! Maar aan die anderkant, die kaartjies vir ‘n rugbywedstryd is drie keer duurder as dié van ‘n sokkerwedstryd.

Die Rietrot is nou klaar geraas, hy belowe. Hy is so impressed met die gholfspelertjie, Thriston. Vir dié van julle wat nie weet nie, die mannetjie brag in Laevelder, koerante van ander mediahuise én in Golf Digest.

Thriston het die eerste én jongste Suid-Afrikaner geword wat die 50ste aanbieding van die Royal Lytham kampioenskappe op die Royal Lytham & St. Annes-gholfklubtoernooi gewen het. Die Rietrot is tog een van sy beste maats en het al Sondag van sy prestasies gehoor.

Vrede!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button