Jong spiesgooier vir SA-span gekies
"Een ding wil ek net baie duidelik maak - as dit nie vir my afrigter, DP Badenhorst was nie, het ek nie nou hier gesit nie."

Dit is die woorde van die belowende jong atleet van Hoërskool Rob Ferreira, Danél Bieldt. Dié 17-jarige spiesgooier is op pad na die Afrika Jeugspele aan die einde van die maand. Sy is een van net twee atlete van Mpumalanga wat gekies is. Die verspringer, Maudas Banda van Hoërskool Bergvlam is ook in die span.
Danél spog met ‘n string prestasies agter haar naam – Mpumalanga-kleure vir gholf, hokkie én nou nog boonop haar liefde vir atletiek, maar albei haar voete is plat op die aarde.
Sy het eers in gr. 8 met ‘n spies in haar hand gestaan en tot en met gr. 10 by haar pa geoefen. Na haar eerste Suid-Afrikaanse Atletiek-kampioenskappe in 2013 het Badenhorst haar genader om saam met hom te kom oefen. “Oom DP is ‘n fantastiese afrigter. Hy laat my so kalm en rustig voel voor ‘n byeenkoms.” Waarom spiesgooi? “Ag! Jy weet mos, as ‘n nuwe gr. 8 doen jy mos alles – diskus en al die nuwe items. Ek het een keer die spies opgetel en wou hom nog nooit weer neersit nie.”
Sy het haar 2013-seisoen met ‘n afstand van 39,7m afgesluit en laat die spies tans 47,63m ver trek. “Ek oefen twee keer ‘n week in Nelspruit waar ek aan my tegniek werk. Die ander twee dae oefen ek volgens ‘n program op my eie.”
Net 10 spiesgooiseuns en -dogters verteenwoordig Suid-Afrika van 28 tot 31 Mei in Botswana.
Gholf
Sy het Vrydag van die interprovinsiale-gholftoernooi in Volksrust teruggekeer.
“Ek het soort van die toernooi gewen.” Sy is ‘n lid van Witrivier Buitebaan en haar voorgee is tans 12.
“Ek en my pa speel graag saam gholf. Ek het eers drie jaar terug ernstig begin word daaroor. Die volgende toernooi waaraan ek deelneem, is die Glazier in Middelburg.” Sy is die enigste dogter van Nelspruit wat in die span wat uit spelers van
Mpumalanga en Limpopo bestaan, gekies is.
Hokkie
Aan die einde van haar laerskoolloopbaan, het sy reeds provinsiale hokkie gespeel. Sy moes vanjaar onttrek, omdat dit met haar atletiek gebots het. “Ek sal nie nou tussen gholf en atletiek kan kies nie. Die twee sportsoorte is gerig op wat jy as atleet self bereik, nie op iemand wat moet besluit of jy goed genoeg is nie.”
Daar word tans ‘n baie negatiewe prentjie van Atletiek Suid-Afrika geskets – kwessies soos geld is veral problematies. Is daar dan ‘n toekoms vir atlete in SA?
“Kyk na iemand soos die spiesgooier Sunette Viljoen en die naelloper Simon Magakwe. Hulle het oor en oor bewys dat daar wel baie geleenthede vir atlete in ons land is.”
