Pumas druipstert na naelbyt-stryd
'n Swart, donker wolk het Vrydagaand oor Mbombela Stadion gehang - een wat die 2451 toeskouers nie sommer sal vergeet nie.

‘n Strafskop in die laaste oomblikke van die Vodacombeker-halfeindstryd deur die heelagter Gouws Prinsloo het ‘n sege vir GWK Griekwas beteken – een wat vir min spanne deesdae in Mbombela beskore is.
Die Steval Pumas se nederlaag van 14-15 teenoor die besoekers was ekstra goor aangesien hulle dié span reeds vanjaar op 28 Maart met 25-16 in Mbombela geklop het.
Die tuisspan het die duur les van ‘n skopper wat in ‘n uitspeelstryd sy visier ingestel moet hê, geleer. Die losskakel JC Roos het een doelskop asook drie stelskoppe verbrou.
Die besoekers se Francois Brummer het in die eerste 20 sekondes ‘n skepskop deur die pale gesit. Hierdeur het die losskakel die rekordboeke herskryf deur die vroegste skepskop in die geskiedenis van SA-rugby oor te skop. Willem de Waal van die Toyota Vrystaat Cheetahs het in September 2009 in die 22ste sekonde dit reggekry.
Prinsloo het self twee strafskoppe verbrou, maar al die punte vir sy span aangeteken.
Na die eerste 40 minute is die Pumas al tongslepend van die veld af. Die kaptein en flank, Corné Steenkamp het in die 66ste minuut die eerste en enigste drie van die kragmeting deur ‘n stoomrol-dryfmaal- beweging gedruk. Na ses minute het Roos sy span vir die eerste keer met ‘n strafskop laat voorloop. Die telling was 14-12. ‘n Duikslag van die kant af, het ‘n strafskop aan die manne van Kimberley toegeken.
‘n Derde agtereenvolgende oorwinning oor die Griekwas sou die Pumas in Mbombela sy tweede Vodacom-eindstryd in die Laeveld besorg het, maar die geskiedenis was in die Poubloues se guns.Die spelers is tans op ‘n twee weke- blaaskans waarna hulle op 26 Mei weer terug op die veld sal wees om ‘n Curriebeker te wen. “Ons speel vanaf 5 Junie elke twee weke teen ‘n span van die Noorde. Ons begin teen die Valke en daarna teen die Griffons. Die Griekwas wag derde vir ons in Kimberley,” vertel die afrigter MJ Mentz.
Die vyf leenspelers wat tans vir die Lions se Superrugbygroep uitdraf, Faf de Klerk, Stefan Watermeyer, Corné Fourie, Rudi Mathee en JW Jonker sal na 12 Julie in Mbombela by die span aansluit.
