Groenes in hewige stryd gewikkel
Die vyfde been van die Mpumalanga Rugby-klubligas het die naweek plaasgevind.

BARBERTON – Barberton het Saterdag 10 Mei na Mbombela gery waar hulle met 41-19 vasgeval het. Die Groenes lê tans in die vierde plek met 53 op die Laeveld top-6 se eerstespan-punteleer. “Ons grootste struikelblok is die tyd tussen wedstryde.
“Die klub is klein en dus moet ons elke speler tot sy maksimum gebruik,” vertel die afrigter Pieter Buys.
Die komende naweek het dié span ‘n loslootjie waarna hulle teen die Rooikatte van Lydenburg, wat laaste op die punteleer met 17 punte is, speel. “Ek nooi almal uit om die wedstryde by te woon en die mooi kultuur van ons land te kom geniet.
“Ek wil graag aan al die ondersteuners langs die veld wat naweek na naweek hul tyd afstaan om ons te kom ondersteun, bedank.”
Die span wil ook graag dankie sê aan hul borge, VR Cargo se Shaun van Rooyen, NTT Toyota Barberton en Barberton Ford.
Die tweede span het óók stert tussen die bene teruggekeer huis toe. Hulle het 7-48 teen die tuisspan verloor.
