Laeveld verwelkom weer honderde ringbalspelers
Die Mpumalanga provinsiale korfbalproewe is op Saterdag 10 Mei op Hoërskool Bergvlam se bane gehou.

Die sport het tussen 1907 en 1916 in die plek van basketbal plaasgevind. Korfbal was die amptelike skolesport vir dogters in tradisionele Afrikaanse skole tot in 1980 en is daarna met netbal vervang.
In 2007 het korfbal ‘n nuwe jas aangetrek en die naam is na ringbal verander. Vanjaar is die sewende jaar wat Laeveld Ringbal gasheer vir die nasionale kampioenskappe speel, wat van 13 tot 18 Julie aangebied word. Meer as 160 spanne uit sewe provinsies reis na Mbombela.
“Ons verwag so tussen 2 000 en 2 500 deelnemers en beamptes. Ongeveer 100 wedstryde gaan op een dag gespeel word. Na afloop van die toernooi gaan die nasionale spanne wat in Oktober aan die Internasionale Ringbal Federasie se kampioenskappe meeding, aangekondig word,” sê Dries van Rooyen wat deel van die Laeveld Ringbal is.
Daar is tans sewe lande wat internasionaal speel, met Suid-Afrika as die voorste land ter wêreld. Lenie Nel van Lydenburg Ringbalklub het verlede jaar vir die 15de keer nasionale kleure verwerf.
