Hengelaars maak lyne styf tydens gesogte kompetisie
Hengelaars het die afgelope naweek tydens die vierde been van die Lowveld Bass Trail die lyne behoorlik laat sing toe 'n totaal van 92 swartbaarse by Kwenadam uit die water getrek is.
BADFONTEIN – Hengelaars het die afgelope naweek tydens die vierde been van die Lowveld Bass Trail die lyne behoorlik laat sing toe ‘n totaal van 92 swartbaarse by Kwenadam uit die water getrek is.
Met 72 hengelaars wat Saterdag reeds vroeg uit die vere was om vir ‘n plek op die podium te kompeteer, blyk dit of belangstelling in dié gesogte sport daagliks onder swartbaarshengelaars in die Laeveld toeneem.
“Dit is duidelik dat hulle in die Laeveld nou van die toernooi bewus word, want elke maand is daar nuwe bote wat inskryf,” vertel Charl Carey, skakelpersoon van Lowveld Bass Trail.
Die dam, wat vir sy geniepsige wind berug is, was dié keer hengelaars en hul 36 bote begenadig en het slegs vir ‘n kort rukkie teen ‘n maksimum van 10km/uur uit die weste gewaai.
Volgens Carey was dit veral by die hoofstruktuur waar hengelaars die meeste vis tussen die watergraskolle wat oral in die dam voorkom in waterdiepte wat wissel van 1,2m tot 6m inkatrol het.
“Die meeste vis is in en om hierdie banke met plastiese kunsaas soos flukes, speed craws en dead ringer wurms in kleure soos watermelon candy, watermelon red en Durban poison aangekeer.
Alhoewel die gemiddelde gewig van die vangs 0,674kg was, was dit Vince Cadle van die span Brayshaw Filtration wat egter die skaal tot by die 2,38kg merk laat draai het. Brayshaw Filtration het hiervoor nie net die pot prys van R1 800 vir die grootste baars gewen nie, maar ook die span tot oorwinning gelei wat aan hulle ‘n R5 000-kontantprys besorg het toe hulle ‘n totaal van vyf visse met ‘n totale massa van 5kg ingeweeg het.
Die volgende been van die Lowveld Bass Trail vind op Saterdag 14 Junie te Vygeboomdam naby Badplaas op die Machado Bootklub se gronde plaas. Dit begin stiptelik om 07:00. Inskrywingsfooie beloop R500 per span wat die lanseerfooi insluit. Alle nuwe deelnemers sowel as die publiek is welkom om die dag by te woon en word hartlik uitgenooi om die voertuie wat uitgestal gaan word deur Union Motors Lowveld, te besigtig en op ‘n toetsrit te neem. Navrae: 082-388-0907.
BLOK
Resultate is soos volg
Eerste – Brayshaw Filtration: 5 vis (5kg) – 12 punte, R5 000
Tweede – Thermocline: 5 vis (4,215kg) – 11,215 punte, R3 000
Derde – Go Fa: 5 vis (3,855kg) – 10,855 punte, R2 000 geborg deur Union Motors Lowveld
Vierde – Bass Stalker: 5 vis (3,540kg) – 10,540 punte: Angling & Outdoor-koopbewys van R500 asook Goya-kunsaasbewys van R400 en Wittus Angling-koopbewys van R400
Vyfde – T & H: 5 vis (3,480kg) – 10,480 punte, ‘n R500 se geskenkbewys van Midas asook koopbewys van Jock teen R250.
