Jonges woeker op die baan
Mammas en pappas het verlede week om die netbalbaan bymekaargekom om te kyk hoe sussie haar eerste wedstryd speel.

Toeskouers was stomgeslaan oor Burgersfort se gr. R-spannetjie se talent. ‘n Mens kan sien dit is nie die eerste keer dat die dogtertjies netbal speel nie. Alhoewel die Burgersfort-span beide die vriendskaplike wedstryde gewen het, wys Ohrigstad se gr. R’s ook baie talent.
“Al ons dogtertjies het gespeel. Ons het net een gr. R-klassie met agt dogtertjies en geen A en B spanne nie, maar hierdie kinders hét talent,” sê me. Liza Saunders, die afrigter.
Vir dié wat nog leer om te speel word daar nie streng geblaas nie. Daar word ook nie op voetfoute of balhantering gelet nie.
Netbal vir die kleintjies word op verskeie maniere aangepas om aan die kinders se behoeftes te voorsien. Die reëls vir die kinders is soortgelyk aan dié vir volwassenes, maar sekere aspekte van die spel, soos die lengte van elke kwart, doelhoogte, en die balgrootte is gewysig. Nietemin was dit opwindend om na die dag se aksie te kyk.
Kyk na die oulike foto’s hier https://steelburgernews.co.za/148944/gr-r-netbal-ohrigstad-teen-burgersfort/
