Gemengde welslae vir Nellies in Beeld-trofee
Die langverwagte wintersport-kragmeting tussen Nelspruit Hoërskool (NHS) en HTS Middelburg is Saterdag in heerlike herfsweer op NHS se velde gespeel.

Dit was die tweede wedstryd van die Beeld-trofee en die Rooies was deurgaans merendeels aan die wenkant.
Hoewel HTS al vier die wedstryde in die ope-afdeling gewen het, het die skool daarop gewys dat die Nellie-spanne meestal net-net die onderspit gedelf het. Die stryd tussen die twee eerste spanne het aan al die verwagtinge voldoen.
NHS het enduit geveg en selfs toe dit gelyk het of HTS ‘n groot telling kon opstapel, het die wittruie binne trefafstand gebly en hul harte uitgespeel. Tog was die eindtelling 33-23 in HTS se guns, wat hulle die enigste onoorwonne span in die makro-skole afdeling van die Mpumalanga-liga maak. Nellies het nou saam met Hoërskool Middelburg sy oog op die tweede posisie wat ‘n plek in die verdere uitspele om die Beeld-trofee sal beteken.
NHS se tweede span buig met 15-17 die knie, ondanks puik breekslae, skopwerk en dryfspel. HTS se derde span het met 21-14 net te veel skietgoed vir die Laevelders gehad. HTS se vierde span het met 13-12 die knoop deurgehaak.
Die o/16 A’s het verlede week die bordjies na ‘n nederlaag verhang teen Witbank om Middelburg 19-5 te wen. Nellies se o/14 A-span het sy goeie vertoningslys vanjaar voortgesit toe hulle met opvallende selfvertroue en uitstekende vaardighede vir so ‘n jong spannetjie die punte ingeryg het, om uiteindelik gemaklik met 36-0 te wen. NHS se ander rugby-wenspanne was die o/15 B’s (15-5), o/15 C’s (27-0) en o/14’s (26-12).
Die tuisspan se dogtershokkiespanne het egter ‘n uitstekende dag beleef. Van die agt wedstryde wat gespeel is, het hulle vier gewen, in drie gelykop gespeel en een verloor.
Hokkie-uitslae van Nellies se wenspanne
• Eerste span: 2-0 HTS
• Tweede span: 2-1 HTS
• o/16 B: 7-0 HTS
• o/14: 3-1 HTS.
