Nuwe fietsry-koning by Mankele gekroon
Afdraande bergfietswedrenne is vir die toeskouers ook adrenalien belaai, hoewel in 'n mindere mate as vir ryers wat aan die DHI (downhill) deelneem.

Hulle jaag so vinnig as wat hul fietse of vreesdrempels dit toelaat oor klippe en naelskraaps langs bome verby, skerp draaie en al. Soos een toeskouer by Mankele Sondag tereg opgemerk het, is dit nie ‘n kwessie van of ‘n mens gaan val nie, maar eerder wanneer.
Die derde been van vanjaar se Suidelike Afrika Bergfietsbekerreeks het verlede naweek op Mankele se 1,8km-roete plaasgevind. Soos Mark Meyer verduidelik, vorm dit deel van die nasionale reeks waarin top-ryers, Union Cycliste Internationale (UCI)-punte vir die wêreldkampioenskappe insamel.
‘n Totaal van 30 ryers het vir die keuringslopie aangemeld, maar twee het sommer toe letterlik uitgeval en moes maar velief neem om toeskouers te wees.
Die uiteindelike wenner, Tiaan Odendaal het ook geval, maar kon nog deelneem.
Daar was ‘n sekonde verskil in tyd tussen die voorste twee ryers. Odendaal, die huidige nasionale kampioen, se wentyd was 02:21.216 met verlede jaar se wenner Timothy Bentley kort op sy hakke met ‘n tyd van 02:22.465. Volgende was Gregg Brown (02:28.750), David Hogan (02:32.261) en JP du Plessis (02:37.893).
Die plaaslike ryer Dirk Laurence se 02:39.312 was genoeg vir ‘n algehele sesde plek. Die eerste subveteraan wat klaargemaak het, Sean Schlebusch se tyd van 02:55.706, was genoeg om hom algeheel 12de te plaas. Die top-drie junior seuns was Jason du Toit (03:25.913) algeheel 18de, Jason Williams (03:29.817) algeheel 19de en Matthew Camp (03:54.429) algeheel 22ste.
Tydens die finale het verskeie ander ook geval. Sommiges kon hul fietse optel en verder ry, maar ander was genoodsaak om dit maar vir die res van die roete by die heuwel af te stoot om tog die resies te voltooi.
Die DHI is voorafgegaan deur die XOC- (oor die veld) resies die Saterdag waartydens ryers rondes om ‘n 6,9km baan moes voltooi.
Die item is meer tegnies en elke ouderdomsgroep moes ‘n ander hoeveelheid rondes voltooi. Samantha Sanders was eerste in die elite vroue-kategorie.
Volgende op die kalender is die wedren by Hayterdale Trails naby Port Elizabeth.
