Ohrigstad toon goeie veggees in liga
Toe Belfast binne die eerste vyf minute oor die doellyn duik, en boonop die bal oor die dwarslat stuur, het die plaaslike manne geweet hulle was in vir 'n taai stryd.

Gesiene dat dit die eerste jaar is wat Ohrigstad se rugbyklub in die Laeveldliga deelneem, is die 32-8 nederlaag ietwat verskoonbaar en daarmee bygesê, kry hulle ‘n klop op die skouer vir hul goeie veggees.
Die span het menigmaal op die doellyn van hul opponente gaan kuier, maar is byna elke keer teruggedryf deur die sterk verdediging.
Die tuisspan kon egter daarin slaag om voor rustyd punte aan te teken toe Donovan Erasmus met ‘n strafskop geslaag, wat die puntebord op 17-3 te staan gebring het.
Hulle het vroeër in Limpopo se derde liga deelgeneem waar hulle baie goed gevaar het, maar het erken dat dit “een van die hardste wedstryde tot dusver in die liga was”.
“Ons vind die Laeveldliga baie taai, maar moet byvoeg dat die eindtelling nie ‘n ware weergawe van die wedstryd was nie,” het die afrigter, Karel Beetge gesê. “Al die klubs weeg goed teen mekaar op en al is ons reeds besig met die tweede ronde in die liga, kan dit nog deur enigeiemand gewen word.”
Dit het gelyk of die relatiewe nuwe klub gedurende halftyd kragte herwin het. Hulle het ondersteuners op hul voete gehad toe Louis Jansen van der Westhuizen binne die eerste paar minute in die tweede helfte agter die doelpale gaan kuier het. Ongelukkig was die vreugde van korte duur en kon die drie ook nie suksesvol verdoel word nie.
Lees die volledige storie in more se Steelburger.
