Ohrigstad toon goeie veggees in liga
Toe Belfast binne die eerste vyf minute oor die doellyn duik, en boonop die bal oor die dwarslat stuur, het die plaaslike manne geweet hulle was in vir ‘n taai stryd.
OHRIGSTAD – Toe Belfast binne die eerste vyf minute oor die doellyn duik, en boonop die bal oor die dwarslat stuur, het die plaaslike manne geweet hulle was in vir ‘n taai stryd.
Gesiene dat dit die eerste jaar is wat Ohrigstad se rugbyklub in die Laeveldliga deelneem, is die 32-8 nederlaag ietwat verskoonbaar en daarmee bygesê kry Ohrigstad ‘n klop op die skouer vir hul goeie veggees.
Ohrigstad het menigmaal op die doellyn van hul opponente gaan kuier, maar is byna elke keer teruggedryf deur die sterk verdediging van die opponente. Die tuisspan kon egter daarin slaag om voor rustyd punte aan te teken toe Donovan Erasmus met ‘n strafskop geslaag wat die puntebord op 17-3 te staan gebring het.
Ohrigstad het vroeër in die Limpopo se derde liga deelgeneem waar hulle baie goed gevaar het, maar het erken dat dit “een van die hardste wedstryde tot dusver in die liga was die jaar.
Ons vind die Laeveldliga baie taai, maar moet byvoeg dat die eindtelling nie ‘n ware weergawe van die wedstyd was nie”, het die afrigter van Ohrigstad, Karel Beetge, na afloop van die wedstryd gesê. “Al die klubs weeg goed teen mekaar op en al is ons reeds besig met die tweede ronde in die liga, kan dit nog deur enige iemand gewen word.”
Dit het gelyk of die relatiewe nuwe klub wat nog in sy kinderskoene is, kragte herwin het gedurende halftyd en hulle het ondersteuners op hul voete gehad toe Louis Jansen van der Westhuizen binne die eerste paar minute in die tweede helfte agter die doelpale gaan kuier het.
Ongelukkig was die vreugde van korte duur en kon die drie ook nie suksesvol verdoel word nie.
Belfast het hul geleenthede goed gebruik en kort daarna op Ohrigstad se drie geantwoord deur self agter die tuisspan se doellyn te gaan kuier. Weer het die Belfastspan ‘n gaping gesien en nog ‘n drie gedruk.
Na ‘n tawwe stryd is die wedstryd eindelik deur die opponente beklink met ‘n 32-8 oorwinning.
Agterspeler van die dag was Donovan Erasmus en voorspeler Stephan Rolling. Ohrigstad speel môre teen Hazyview op die laerskoolvelde, in wat beloof om ‘n puik wedstryd te wees.
Die span nooi almal uit om die wedstryd te kom kyk wat apskof om 15:30.
