Horn-broers kry tweede plek voor hul tuisskare
Die gemeenskap van Malalane het die afgelope naweek bankvas agter die Hornbroers, Johan en Werner gestaan
Die gemeenskap van Malalane het die afgelope naweek bankvas agter die Hornbroers, Johan en Werner gestaan. Die voorlopers Anthony Taylor en Dennis Murphy in die Castrol Toyota Hilux was maar net met minute voor die broers, en hulle het dit geweet. “Ons was nie te bekommerd oor Taylor en Murphy voor ons nie. Ons het op wedrendag al besluit om ons posisie te behou en geen foute te maak nie.” Volgens die Horns was dit vir hulle baie spesiaal om ‘n tweede plek voor die mense van Malalane te verwerf. “Ons heel eerste poduimwen was in Mooirivier en ons was trots op onsself, maar om weer voor ons vriende en familie in die dorp waarin ons grootgeword het op die poduim te staan, was baie spesiaal.” In die begin van die Donaldson-kampioenskap was Johan en Werner se plan om bestendig te wees en die renne klaar te maak. “Ons plan werk goed so ver,” vertel hulle.
Corridor Gazette het gevra of die Nkomazi-gemeenskap hulle aangespoor het om hulself méér te druk gedurende die wedren? “Ja, verseker,” het hulle geantwoord.
Hulle hoop om in die volgende ren in Botswana van 27 tot 29 Junie goed te vaar. “Ons hoop in elke ren op goeie uitslae, maar in veldrenne is mens nooit seker van wat gaan gebeur nie.” Die broers sê ook dat vriende en familie hulle in die veldrentoere ondersteun en werklik deel is van die span. Die twee manne het grootgeword in ‘n veldrengemeenskap want pa Johan Horn het in die tagtigerjare ook daaraan deelgeneem. Die broers het hul heel eerste ren in Barberspan in 2008 saam aangepak en onthou elke oomblik. Hulle sê hulle hoop om vanjaar die Donaldson-kampioenskap goed klaar te maak.
Die Nkomazi 450 het die omgewing se gebeurtenis van die jaar geword; die twee broers plaaslike helde.
