Juniors se rakette swaai by geslote kampioenskappe
Die Laeveld se junior tennisspelers se rakette het verlede naweek die praatwerk in die geslote vyf junior kampioenskappe gedoen.

Die o/11-dogters se Zoë Bergmann van Laerskool Bergland en Arili Boshoff van Laerskool Nelspruit het mekaar in die eindstryd aangedurf.
Hulle het Vrydag in die eerste ronde ontmoet waar Arili met 6-1 gewen het.
Na sewe uitputtende rondes, het hulle mekaar op die laaste dag wéér in die oë gekyk. Zoë het net-net met 4-3 koning gekraai. Die o/13-seuns se Liam Gunther en Ruan van Esch het Saterdag tot 13:00 gespeel en was fodde.
Albei het ‘n paar moeilike wedstryde gehad en ook twee keer teen mekaar gespeel. Liam sou aanvanklik as gevolg van ‘n besering nie gespeel het nie, maar het Vrydag opgedaag en besluit om tog aan die toernooi deel te neem. Hy het 9-5 gewen.
Die voorsitter van Laeveld Junior Tennis, Jeanetha Boshoff is baie opgewonde oor die belangstelling in dié sport. “Dit is wonderlik om te sien hoe die spelers na elke wedstryd ten opsigte van ervaring, sportmansgees en lewensvaardighede verbeter.”
Volgens Boshoff is dit nie net ‘n sport nie, maar ‘n leerskool waarin hulle die lesse wat op die baan geleer word, in hulle lewens kan gaan toepas. “Karakter word gevorm.
Jy leer van kleins af hoe om te wen en te verloor, want iewers gaan jy beslis verloor. Dit is net jy op die baan en jy moet dus dan jou eie besluite maak,” sê sy verder.
Die Laeveld bied vanaf 28 Junie to 1 Julie ‘n Tennis Suid-Afrika-toernooi in Mbombela aan. Navrae: Jeanetha Boshoff by
082-780-4373 of Laetitia Fourie by 082-458-5789.
