Local sportSport

Potensiale ster opsoek na afrigter

Al sou die meeste van ons dit as vanselfsprekend aanvaar dat die Afrika Jeugspele-swemmer, GJ Richter (17) van Penryn College saam met iemand soos Cameron van der Burgh om 'n tafel sou wou sit, verkies hy egter om met die meesterkok, Reuben Riffel oor sy gunsteling dis te gesels.

GJ het pas van Botswana teruggekeer waar hy van 21 tot 28 Mei aan die Jeugspele deelgeneem het. Hiér het die donkerkop in drie items, 50- en 100m-vlinderslag en 50m-vryslag geswem en ‘n 24ste, 21ste en ‘n 30ste plek onderskeidelik verower.

Alhoewel hy deesdae in Suid-Afrika woon, is hy in Swaziland gebore en swem hy vir dié land. Dit was nie die eerste keer dat GJ die wêreld met sy talent getoer het nie. In 2011 het hy 15de by die Statebondspele in Isle of Man in Amerika geëindig.

Hy is tans sy geboorteland se beste o/18-swemmer. Later vanjaar reis hy na Ninjang, China vir die Olimpiese Jeugspele. 

GJ was in Swaziland op laerskool. “Daar was nie vir my in Swaziland geleenthede om as swemmer te verbeter nie. Sedert gr. 8 het my ouers my na Penryn toe gestuur waar ek tot in gr. 11 in die koshuis was,” sê hy. Sy ma, Susan het verlede jaar Mbombela toe getrek om by haar kinders te wees en GJ en sy sussie woon tans by haar.

Die jong avonturier het reeds as drie jarige swemlesse geneem en in 2006 by die klub, The Sharks aangesluit. “My afrigter, Chris Stapley is steeds in Swaziland waar hy weekliks vir my ‘n oefenprogram deurstuur. Ek is op die oomblik op soek na ‘n plaaslike afrigter wat tyd aan my bestee.”

Die Richters is in die winterseisoen meestal in Swaziland. “Dit is egter heeltemal te koud om in die winter te swem en daar is nie verhitte swembaddens nie. Ek kan ook amper nooit saam met Stapley oefen nie. Dit is waarom ek op soek is na iemand wat my hier kan help.” 

GJ se grootste mededingers is die Swazis Tembisa Mamba, Simanga Dlamini en Mark Horr. Hy sien op na swemmers soos Van der Burgh omdat hy die eerste Suid-Afrikaanse swemmer in GJ se tyd is wat ‘n goud by die 2012 London Olimpiese Spele ontvang het. “Ek is ook mal oor Chad le Clos. Die Amerikaanse swemmer, Michael Phelps was sy held en het uiteindelik sy grootste mededinger geword.” 

As hy nie in die swembad is nie, is hy lief daarvoor om kos te maak, musiek te luister, vis te vang of om met sy fiets die berge van Mbombela plat te ry. GJ gaan volgende jaar na ‘n sjefskool in Pretoria. Sy ma vertel dat sy malvapoeding vingerleklekker is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button