Local sportSport

Span gereed vir volgende ronde se stryd

Pumas Laeveld-platteland toon positiewe vordering in hul voorbereiding vir die jaarlikse plattelandtoernooi wat vanjaar vanaf 5 tot 11 Julie in Potchefstroom plaasvind. 

Dié span het hul eerste oefenwedstryd verlede Woensdag teen ‘n gekombineerde Nelspruit XV-span by die Nelspruit Rugbyklub gespeel.

Die kragmeting was deel van die span se proewe waar spelers hul staal moet toon om die finale groep van 22 te haal wat in die plattelandtoernooi gaan speel. 

Volgens Nelspruit Rugbyklub se tweede spanafrigter, Theuns van Winter, is die oefenwedstryd georganiseeer om die plattelandse Pumas met hul voorbereiding te help. 

Die telling en individuele prestasies was nie van die grootste belang nie. Dit moes eerder vir die afrigter, Pieter de Bruyn ‘n voorsmakie gee van wat hy tot sy beskikking het.

“Die manne het nog nooit saam as ‘n span gespeel nie, so ek glo ons kan net aanhou verbeter. Ek is tevrede met hul inisiatief en entoesiasme,” sê De Bruyn.

Die plattelandtoernooi bestaan uit agt spanne naamlik, Pumas Laeveld-platteland, Pumas Hoëveld-platteland, Blou Bulle, Limpopo Blou Bulle, Luiperds, Leeus, Valke en die Griffons. 

Die Pumas Laeveld-platteland het teen alle verwagtinge die toernooi in 2012 in Welkom gewen en beoog om hierdie jaar weer in die toernooi naam te maak. 

“Die toernooi bied blootstelling en meer geleenthede vir die spelers, en die klubs in die omgewing word ook bevoordeel,” sê De Bruyn. 

Pumas Laeveld-platteland se agste man, Micheal de Beer (37), speel al sedert 2002 vir dié span. “Ek het vir amper elke klub in die Laeveld gespeel en ons oorwinning in 2012 was vir my baie lekker.” 

Martin Mhlongo, speel vanjaar vir die eerste keer in die Pumas Laeveld-plattelandspan nadat hy al vir verskeie spanne, naamlik die Leeus, Valke en Pukke uitgedraf het. 

Dié haker en stut reken dat goeie spangees belangrik is. 

“Nuwelinge voel welkom in die span en ervaar dan die familie-atmosfeer van die klub. Dit is een van die groot dinge wat rugby in Mpumalanga anders maak. 

Pumas Laeveld-platteland speel hul volgende oefenwedstryd op Woensdagaand teen Komatipoort, waarna die finale groep gekies gaan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button