Plaaslike atlete skitter in Jeug Spele
Twee plaaslike atlete, Maudas Banda (16) en Danél Bieldt (17) was die enigstes van Mpumalanga wat die land by die afgelope Afrika Jeugspele in Botswana verteenwoordig het.

Bieldt van Hoërskool Rob Ferreira het op Vrydag 30 Mei die derde beste afstand in spiesgooi in Afrika gegooi.
Alhoewel haar persoonlike beste 47,3m is, het sy 43m op die dag aangeteken. Jo-Ann van Dyk het die goud gewen. Bandas is ‘n leerder van Hoërskool Bergvlam en het ongelukkig reeds die Donderdag uitgeval – hy het met al drie sy spronge oor die lyn getrap.
Die span van net 20 is vroeg in Mei aangekondig en het op die 19de uit Johannesburg vetrek. “Dit was ‘n ongelooflike ervaring.
“Ons het skoene, sweetpakke, ‘n warm baadjie, hemde, tasse, sakgeld en ‘n rugsak gekry. Ons bus het selfs begeleiding gehad – ons het soos regte sterre gevoel,” vertel die twee. Die spele het by die Gaberone Stadion in Botswana, wat tot 22 000 toeskouers kan akkommodeer, plaasgevind. Daar was 54 Afrika-lande, 21 sportsoorte en 2 500 atlete wat vanaf 28 tot 31 Mei deelgeneem het.
Twee Bieldt’s was onder die top-atlete van die land – Danél se niggie, Taylon het ‘n goud in die 100m-hekkies gekry. “Dit is ongelooflik om te dink dat ek op 17 reeds nasionale kleure het. Dit was sowaar een van die grootste hoogtepunte in my lewe,” vertel Danél.
Banda het met ‘n afstand van 7,33m gekwalifiseer. Die wenner van die goud het ‘n afstand van 7,63m behaal. “Ek was vreeslik op my senuwees gewees. Daar was baie toeskouers en as ek volgende jaar wéér kwalifiseer, sal ek weet wat om te verwag,” sê hy.
Die kommunikasie met van die ander atlete was ‘n uitdaging aangesien meeste van hulle nie Engels kon praat nie.
Die span het by die Universiteit van Botswana se sportsentrum tuisgegaan. Banda se volgende mikpunt is om vir volgende jaar se Wêreld Jeugkampioenskappe wat in Brasilië plaasvind, te kwalifiseer. Danél kan nie omdat sy volgende jaar nie langer as ‘n junior deelneem nie.
Om te verseker dat dié die twee se talent optimaal ontwikkel word, sal hulle vir die res van die jaar met behulp van ‘n spesiale program gemonitor word.
