Local sportSport

Groot droom word waar

Dit is verseker enige rugbyspeler se droom om vir 'n internasionale span in 'n wêreldbekertoernooi uit te draf. So 'n droom het nou vir een van die Steval Pumas se ster-losvoorspelers, Renaldo Bothma, waar geword. 

Die 25-jarige sal hierdie naweek na Windhoek vlieg om deel van die Nambiese nasionale span uit te maak. Hulle sal eers twee opwarmingswedstryde teen die DHL Westelike Provinsie en die Vodacom Blou Bulle speel, voor hulle na Madagaskar vir drie kwalifiserende toetse in die 2015 IRB Wêreldbekertoernooi vertrek. Bothma het die eerste wedstryd teen WP misgeloop, maar sal wel teen die Super15 Bulle in die Namibiese trui uitdraf.

Sy ma, Yolande, is in Windhoek gebore en dit het hom in staat gestel om vir sy burgerskap aansoek te doen. “Verlede jaar het die SA Presidentespan ‘n opwarmingswedstryd teen Namibië gespeel en die afrigter, Danie Vermeulen het iewers van my ma gehoor en my toe genader,” vertel die opgewonde Puma.

Sedertdien is die bal aan die rol. Weens die Pumas se sukses verlede jaar kon Bothma nie vir die span speel nie, maar is vanjaar die kans gegun om deel van die span te word. 

Vermeulen het ‘n maand gelede sy insluiting in die groep bevestig en Bothma sal die nommer-agt trui oor sy kop kan trek.
“My loopbaan het by die Sharks se junior spanne begin, waarna ek in die Leeus se Curriebekerspan opgeneem is. Na die 2010/11-seisoen het ek na die Pumas oorgeskuif, waar deure oopgegaan het,” noem hy. 

Die Namibiese span sal in Madagaskar teen Kenia, Zimbabwe en Madagaskar speel om vir volgende jaar se kompetisie te kwalifiseer. “Ek glo dit gaan harde wedstryde wees, maar met ander spelers soos Jacques Burger, die huidige kaptein van Saracens – wat ook ons kaptein sal wees – en die WP-losvoorspeler Ruan Kitshoff, sal ons nie anders kan as om te kwalifiseer nie. Ons eerste wedstryde volgende jaar sal teen Nieu-Seeland wees wat saam met Tonga, Argentinië en Georgia in die poel is,” vertel hy verder. 

Bothma, ‘n voormalige Hoër Volkskool Heidelberg-leerling, sien sy insluiting as een van sy grootste prestasies nog en voel dit is vir hom ‘n geleentheid om nog groter rugbydrome te bewaarheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button