Nellie maak slimste skuiwe
Die skaakspeler van Hoërskool Nelspruit, Johan Valks het die o/18 tot o/20 en senior afdeling van die Witrivier-toernooi wat Saterdag plaasgevind het, met 'n totaal van 1 245 gewen.

Abraham Visser, óók van Nellies het in die derde plek met 1 085 geëindig.
Altesaam 132 skaakfoendi’s het in die ysige koue aan die sesde toernooi van Ehlanzeni Skaak deelgeneem.
Die o/10’s se staatmaker-skaakspeler, Ruan Venter het tweede in die kategorie gekom met ‘n telling van 942 en Juan Oelofse, óók van Curro, het net-net ‘n plek in die top drie misgeloop met ‘n telling van 844.
Curro se nege spelers het ‘n tweede en derde plek in die o/12-afdeling verower. Michiel Eksteen en Zuan Taljaard het elk onderskeidelik ‘n silwer- en bronsmedalje gekry.
Alexander van Wyk-Grove wat naam by die Lydenburg ABC-ope gemaak het, het Saterdag geskitter om weer ‘n eerste plek in die o/14-afdeling te kry met 1 285 punte. Georger Visser en Hanno van Deventer van Laerskool Nelspruit het ook goed in dié afdeling gevaar. Aslan Oelofse van Curro is as die beste beginner aangewys.
Mohlala Mpumelelo van Curro het eerste in die o/16-groep gekom. Die volgende geleentheid waar die skaakspelers weer bymekaarkom, is op Saterdag 21 Junie. Navrae: ehlanzenichess@gmail.com
