Vegter is steeds positief
Die vegkunstenaar, Eric van Rooyen is skaars 'n maand gelede in kennis gestel dat hy vanaf 30 Junie tot 6 Julie Suid-Afrika in Las Vegas, Amerika vir die Gevegkunskampioenskappe moet verteenwoordig.

Ongelukkig het hy die afgelope week uitgevind dat sy visum nie betyds gaan reg wees nie.
Die 19-jarige het aan die begin van Mei vir die eerste keer sedert hy in 2011 met die sport begin het, provinsiale kleure verower. Twee weke gelede het hy aan die Suid-Afrikaanse proewe in Johannesburg deelgeneem en is hiér vir die span gekies.
“Ek het só uitgesien om my land te verteenwoordig. Dit sou ‘n ongelooflike geleentheid wees en ek sou baie ondervinding opdoen,” het Van Rooyen gesê.
Die oudleerder van Hoërskool Bergvlam is tans by die Rio Grappling Club waar hy in die bantamgewig-afdeling
(58 tot 61,2kg) deelneem.
“My oupa was ‘n professionele bokser en my pa óók. Ek het een aand na die sport op die televisie gekyk en besluit dat dit interessant lyk. Dit is my passie, dis deel van my leefstyl.”
In gr. 8 het hy 28kg geweeg en het al heelwat spiere gebou. “Ek het sedert ek met vegkuns begin het, baie meer soepel, sterker en fikser geword. Jy kan altyd verbeter en niemand is beter as iemand anders nie – dit hang van geveg tot geveg af. Ek het in ‘n baie kort tydjie só baie by my afrigters, Craig McFadyen en Lourens Botes geleer.” Dit sou die eerste keer gewees het dat dié vegter oorsee sou gaan. Net 10 atlete van Suid-Afrika is gekies.
“Ek was halfpad daar om genoeg geld in te samel. Sedert ek geweet het van my insluiting, het ek harder begin oefen.”
Hy sal binnekort by Unisa begin waar hy LLB-regte gaan studeer. Hy is stil, teruggetrokke en op sy plek – eienskappe wat ‘n mens nie sal laat dink dat hy ‘n vegkunstenaar is nie.
“Almal by die klub inspireer my en ons is een groot familie.”
