Naelbyt-wen vir Nelspruit op tuisveld
Nelspruit se eerste span het Saterdag naelskraap teen Malalane se eerstes met 29-26 op hul tuisveld geseëvier nadat Nelspruit in die doodsnikke van die wedstryd die doellyn vir die vyfde keer besoek het.

‘n Taai en wisselvallige wedstryd was dit beslis en die naelbytstryd het sy klimaks bereik toe Nelspruit se linkervleuel, Lloyd Malatji, sy tweede drie in die hoekie gaan druk het. Daar was eers groot spanning toe dit met die eerste oogopslag gelyk het of die opponente vir Malatji oor die kantlyn geboender het voordat hy die drie kon druk. Die skeidsregter, Gavin Wessels, het met die lynregter gekonsulteer en toe na ‘n minuut die drie toegeken.
‘n Kollektiewe juigkreet het uit die Nelspruitkamp opgeklink terwyl Malalane se luidrugtige ondersteuners geskok en teleurgesteld die pad huiswaarts moes aandurf. Vroeër het Nelspruit die voortou geneem toe Francois Koch op die doellyn gaan kuier het.
Malalane het dadelik teruggeveg en twee drieë deur Ryno Koekemoer en Frikkie Odendaal het die Malalaners weer laat glimlag. Koekemoer se vreugde was kortstondig toe hy ‘n geelkaart net na sy drie gekry het.
Nelspruit het die kans benut en toe met twee drieë, een voor en een na rustyd, die wedstryd in hul guns geswaai. Die slot Gary Visagie se drie was uitsonderlik toe hy deur omtrent vyf Malalane-verdedigers soos ‘n wafferse senter gebreek het.
Malalane het nog genoeg petrol in hul tenk gehad en het nog drie drieë gedruk, die laaste een vyf minute voor die eindfluitjie. Malalane-losskakel Chris Botha het die drie verdoel en vir sy span ‘n twee-punt voorsprong van 26-24 besorg. Die drama was egter nog nie verby nie en Nelspruit se veggees is met ‘n laaste drie in die hoekie beloon wat die telbord na 29-26 in die guns van die Nelspruiters laat swaai het. Volgens Gunther Swart, Nelspruit se afrigter, het hul span, wat talle gereelde spelers kwyt was, uitstekende veggees getoon.
“Die ouens het die wa net-net deur die drif getrek. Dit was naelskraap maar ons het gewen en dit is al wat saakmaak,” het Swart gesê.
