Gholf-ster dalk op pad na Japan
Die Laeveld se plaaslike vroue-gholf-ster, Monja Richards het onlangs die Limpopo-kampioenskappe gewen en is ook vir die Suid-Afrikaanse span gekies.

Die groep van ses is aan die einde van die 72 Hole Teams-kampioenskappe, wat aan die einde van Mei by Mosselbaai-buiteklub plaasgevind het, gekies. Richards gaan vanaf 23 tot 25 Junie ‘n oefenkamp in Stellenbosch bywoon, waar die finale span van drie gekies gaan word om die land in Japan te verteenwoordig.
Die provinsiale span het vanaf 25 tot 28 Mei op die skouspelagtige baan in die Kaap gespeel. Die spelers, waarvan Richards die kaptein was, Izel Pieters en Chanelle Botha, het nie so goed gevaar soos wat hulle verwag het nie.
“Ons het sesde uit die 12 spanne geëindig. Ek was ook baie teleurgesteld, ek het agste uit 72 spelers gekom.” Ten spyte hiervan, het dié donkerkop na afloop van die toernooi gehoor dat sy gekies is.
Die afgelope naweek het sy aan die Limpopo-kampioenskappe op Polokwane gespeel. Sy het verlede jaar met 16 houe gewen en haar titel vanjaar net-net verdedig.
“Ek het geweet dat hierdie jaar moeiliker gaan wees. Na dag een, was ek net een hou agter die negende gekeurde Suid-Afrikaanse vroue-speler, Lara Weinstein.” Richards lê vierde. Die wind het baie sterk gewaai en die setperke was hard en vinnig. Op die 13de putjie het dieLaevelder met twee houe voorgeloop, maar ongelukkig baansyfer op die volgende drie gatjies aangeteken. Weinstein het weer met een hou voorgeloop en daar was net twee gatjies oor.
“Ek het gedink ek het my kans verspeel, maar op die laaste twee gate, het sy baansyfer gespeel. Ek het met net een hou vir die tweede agtereenvolgende jaar die toernooi gewen.”
