Visse is sku in koue waters
Die vyfde been van die Lowveld Bass Trial het Saterdag 14 Junie by die Vygeboomdam naby Badplaas plaasgevind.

Altesaam 27 bote het ten spyte van die ysige koue, vroeg die oggend die waters aangedurf.
“Die toestande was baie moeilik aangesien ons die week voor die kompetisie ysige koue weer beleef het. Die watertemperatuur het van 18 na 15 grade gedaal en teen die tyd wat ons begin het, was dit ‘n skrale twee grade. Die noord-westewind het teen 16km/h gewaai. Later die dag het dit egter heelwat warmer geword,” vertel een van die deelnemers, Charl Carey.
Die hoofstruktuur van die dam bestaan uit rietbanke en watergraskolle en die waterdiepte wissel van 1,2m tot 6m. “Meeste van die visse is teen die rietbanke met swart en waatlemoen-rooi suigwurms en “senkos’ gevang. Baie ander is nadat die wind bedaar het met “spro aruku shad”, 75-liplose kunsvissies en swart-en-geel akkedisse gevang.
Die hengelaars het 85 swartbaars met ‘n gemiddelde gewig van 0,427kg uitgetrek.
Die grootste van die dag – 1,245kg – is deur die span, Chomp, se Sarel Venter gevang. “Baie dankie aan al die borge vir julle ondersteuning.” Die volgende toernooi vind op Saterdag 12 Julie by Injakadam plaas. Almal moet teen 07:00 op die water wees. Inskrywingsgeld beloop R400 per span. Navrae: Charl Carey by 082-388-0907.
