Pumas-held druk sy stempel af in Namibië
Rugbykoors het hierdie naweek hoog geloop in die Laeveld.

Eers het die Steval Pumas gesorg dat die wenkultuur daargestel word deur Vrydagaand met die Down Touch Griffons in hulle Curriebeker-opwarmingswedstryd af te reken, en toe het die Bokke Saterdag in ‘n naelbytstryd in Mbombela-stadion met Wallis klaargespeel.
Maar ook in Namibië het ‘n Steval Pumas-ster beïndruk in ‘n kragmeting met die Super15 Bulls. Renaldo Bothma, blondekop-agtesteman van die Pumas wat onlangs gekies is om vir die Namibiese Nasionale Wêreldbekerspan te speel, het in ‘n opwarmingswedstryd in Windhoek sy stempel afgedruk.
In ‘n kort epos-onderhoud het Bothma genoem dat dit een van sy beste vertonings hierdie seisoen was. Dit was nou wel ‘n klipharde wedstryd met die Bulls wat gewen het, maar op die ou end was dit Bothma wat in ‘n verloorspan as die man van die wedstryd aangekondig is.
“Ons word behoorlik op die hande gedra deur die Namibiese rugbypubliek en dis ongelooflik om deel te wees van dié ryk rugbykultuur.
Elke speler in die span het meer as sy bes gegee, en siende dat dit net ons tweede wedstryd as span saam is, kan ek net voorspel dat ons skitterend gaan vaar op toer,” vertel hy.
Die span vertrek Woensdag na Madagaskar waar hulle in drie internasionale kwalifiserende wêreldbekertoetse teen Kenia, Zimbabwe en Madagaskar gaan speel. Al drie wedstryde sal op Super Sport uitgesaai word.
