Smook gaan om te wen
'n Plaaslike dokter is net so handig met 'n roeispaan as met sy stetoskoop en beoog nou om Amerika se waters in te vaar.

Dr. Gustav Smook het op 7 tot 8 Januarie vanjaar by die Suid-Afrikaanse Maraton Kano-kampioenskappe in Benoni ‘n eerste plek in die sub meesters (45-49) vir die K1-kategorie behaal.
Hy gaan nou in September Suid-Afrika in die sub-meester (K1 en K2) kategorie by die 2014 ICF Kano-maraton Wêreldkampioenskappe verteenwoordig. Dit vind vanaf 26 tot 28 September in Oklahoma City in die Verenigde State van Amerika plaas.
Smook, ‘n oor-neus-en keel spesialis by die Laeveld Hospitaal in Mbombela, is ‘n kranige roeier met 22 jaar se ervaring op sy kerfstok. Hy is vasbeslote om sukses op die hoogste vlak te behaal.
“My enigste doel is om die podium te haal. Dit maak nie sin om net deel te neem nie, omdat dit baie geld kos wat ek uit my eie sak moet betaal. Ek oefen ook die hele jaar lank reeds vir die kampioenskappe en dit verg baie toewyding.”
Die kano-maraton bestaan uit ses rondes en is 22 kilometer lank. Dit neem hom omtrent een uur en 45 minute om so kanoe-maraton te voltooi.
Smook is ook ‘n lid van die Laeveld Kanoklub en vertel dat hy van beide plat-en witwaterroei hou en K1 (enkelkano)-wedrenne verkies.
Hy het ook die land in die 2013 Wereldkamioenskappe in Denemarke verteenwoordig en glo dat Suid-Afrika die talent en infrastruktuur het om wêreldwyd in die sport naam te maak.
“Ek hou van watersport en die buitelewe in die Laeveld is perfek vir hierdie tipe sport,” sê Smook.
“Suid-Afrika was nou juis suksesvol in hul aansoek om die Wereldkampioenskape in 2017 aan te bied. Die kampioenskappe gaan by Kampsdrif in Pietermaritzburg plaasvind, sê Smook.
“Suid-Afrika word goed verteenwoordig met omtrent 50 roeiers wat in verskeie kategorieë deelneem. Slegs een roeier per kategorie kan Suid-Afrika by die Wereldkampioenskappe verteenwoordig,” het hy bygevoeg.
Daar is verskeie kategorieë wat mans- en vroueroeiers, veteraanroeiers en selfs o/14 en o/16 insluit.
Volgens Smook is een van die belangrikste faktore om die motivering te hê om hard te oefen en jouself te druk om te kan presteer.
“Die help my om ‘n mede-roeier te hê wat saam oefen. Willie Loots en Trevor Smith help my in my voorbereiding vir die groot maratons.
