Gholfspeler maak sy buiging as professionele speler
Die 17-jarige gholf-ster, Thriston Lawrence het verlede jaar die gholfwêreld aan die gons gehad deur die jongste speler te word wat die Suid-Afrikaanse Amateurkampioenskappe te wen.

Hy het Desvonde Botes se 22 jaar oue rekord met meer as twee maande oortref, en is byna drie maande jonger as wat Ernie Els was toe hy in 1986 die rekordhouer geword het. Hy het vanjaar dié titel wéér by die Hermanus Gholfklub ingepalm – hy is die eerste speler wat dit in 36 jaar reggekry het, om dit vir die tweede agtereenvolgende jaar te verower. Teddy Webber het dit laas in 1978 gedoen.
Lawrence sal sy debuut as professionele speler op die Europese Toer by vanjaar se Scottish Hydro Challenge op die Macdonald Spey Valley-buitebaan maak.
Die toernooi het gister afgeskop en duur tot Sondag. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat die Lytham-trofee kon wen en dit was ook sy eerste oorsese oorwinning. “Ek is reg vir die uitdaging.
“Ek het nou die geleentheid om my drome te jaag en ek gaan net my beste gee,” het hy opgewonde vertel.
Op die vraag of hy ooit gedink het dat hy ‘n professionele gholfer sal word, het hy geantwoord dat dit nog altyd sy droom was. “Ek speel om te wen. My doelwit is om eendag die beste in die wêreld te wees.”
Ander Suid-Afrikaners wat ook in die toernooi sal wees is Jake Ross, Brandon Stone en Dylan Freteli.
Lawrence is tans die nommer twee gekeurde speler op die Suid-Afrikaanse Gholfvereniging-ranglys.
Hy en sy pa, Steven, wat ook sy joggie is, was vir twee maande oorsee en keer op 3 Julie terug. Hy het tot dusver in vyf toernooie oorsee gespeel en is tans besig met sy sesde, wat hy nie sommer sal vergeet nie.
