Gimnaste kry smakie van opkomende proewe
Soepelheid, spronge, handstande en onderstebo hande-viervoet loop.

Die Nelspruit Gimnastiek Akademie het Vrydag hul eerste voorbereidingskompetisie gehad. Dit was tot dié aanloop vir die Mpumalanga-proewe vir vlak 1 tot 3-gimnaste wat een van die dae plaasvind.
Die vlak 1’s het hul eerste smaak van ‘n kompetisie gehad en die afrigters is in hul noppies met dié kleintjies se vertoning. “Hulle het pragtig gelyk en baie goed presteer. Almal het medaljes ontvang wat volgens hul gemiddeld bepaal is. Die atlete se positiewe gesindheid is ‘n goeie aanduiding van hul karakter,” het die hoofafrigter Maré Putter gesê.
Die vlak 2- en 3-gimnaste, wat meer ervaring het, was ernstig en gefokus. “Dit was lekker om te sien hoe hulle ontwikkel het en steeds sterker en slimmer by die dag word,” sê Putter.
Gimnastiek vereis harde werk, dissipline en deursettingsvermoë. Die akademie wil graag elke ouer se positiewe gesindheid ten opsigte van hul kind se ontwikkeling bedank.
