Boeties gaan in Swede vir goud soek
Twee broers gaan aan die Goudpan Wêreldkampioenskappe in Kopparberg, Swede vanaf 11 tot 17 Augustus deelneem en beoog om altwee met meer goud om hul nekke huiswaarts te keer.

GRASKOP – Albé en Henko de Nysschen het goudpan begin beoefen nadat vriende hulle aan die unieke sportsoort bekendgestel het. Nou presteer hulle op beide nasionale en internasionale vlak.
“Dit het baie lekker geklink toe my vriend my daarvan vertel, en ek het gedink dit sal lekker wees om iets te doen wat ek nog nie gedoen het nie. Ek hou van nuwe uitdagings,” voeg Albé by.
Albé (15) is ‘n leerling van Hoërskool Nelspruit, terwyl Henko (11) in Laerskool Sabie skoolgaan.
Volgens hulle ma, Adele is goudpan ‘n sport wat deur enige persoon, ongeag sy ouderdom, beoefen kan word. “Jy kry ‘n emmer met sand en binne is daar stukkies goud geplaas. Die getal stukkies is onbekend aan die deelnemers. Hulle moet dan so vinnig as moontlik die emmer klaar pan en al die goud vind.”
Die persoon wat al sy goud in die vinnigste tyd bymekaarmaak wen, maar daar is ook ‘n paar lokvalle. Vir elke stukkie goud wat jy verloor, word jy ook met drie minute gepenaliseer en dit word by jou tyd gevoeg.
Albé en Henko is albei uitblinkers met Albé wat in 2012 ‘n eerste plek by die Wêreldkampioenskappe in Pelgrimsrus behaal het en verlede jaar tweede by die nasionale kampioenskappe in Pelgrimsrus gekom het. “Augustus se toernooi in Swede sal my derde wêreldkampioenskap wees,” het Albé trots gesê.
Henko het ook in sy broer se voetspore gevolg toe hy ‘n derde plek in verlede jaar se nasionale kampioenskappe in die junior kategorie behaal het. Adele is baie opgewonde vir haar seuns en noem dat hulle baie bevoorreg is om die wêreld op so ‘n jong ouderdom te beleef.
“Nie elke kind kry so ‘n geleentheid nie. Toe Albé verlede jaar Italië toe is, was ek maar bang, soos ‘n ma maar altyd is, maar hy het darem in ‘n groep gegaan. Hierdie jaar gaan kleinboet ook saam en dit sal Henko se eerste keer oorsee wees en ook sy eerste keer wat hy gaan vlieg,” het Adele gesê.
