Local sportSport

Plaaslike stoeiers ken hul grepe

Die Nelspruit Stoeiklub het nog nie eens hul tweede bestaansjaar gevier nie, en het reeds vyf medaljes by dié kampioenskappe ryker geword.

Die Suid-Afrikaanse Kadet- en senior Grieks-Romeinskampioenskappe (GR) het die afgelope naweek in Pretoria plaasgevind.

Die Nelspruit stoeiklub het nog nie eens hul tweede bestaansjaar gevier nie, en het reeds vyf medaljes by dié kampioenskappe ryker geword. Die plaaslike stoeiers, Neels Smit (15) en Faantjie Steyn (15) het Mpumalanga in die Jakarandastad verteenwoordig.

Neels is van Laeveld Akademie en het ‘n bronsmedalje in die GR vir gewigsafdeling 42kg tot 46kg, gekry en ‘n tweede plek op die podium ingeneem in die rofstoeiafdeling. Sy mededinger om die derde plek was Jason Baker en hy moes met die ervare JJ Ludick afreken vir die silwer.

“Ek stoei nou maar net een jaar en vyf maande en het nie die sport geken nie. Dit is ‘n groot prestasie om só goed by die Noord-Gauteng-kampioenskappe te kon vaar.”

Die Hoërskool Bergvlam-leerder, Faantjie het ‘n brons in GR in die 54kg tot 58kg-afdeling op die eerste dag verower. Hy het ongelukkig op die tweede dag teen Nathan Webb vasgeval. “Ek het as kind teen my pa en broer op die bank gestoei. Ons het baie lank na ‘n klub hier in Mbombela gesoek en uiteindelik een opgespoor.”

Die afrigter, Hansie Kruger het reeds aan die begin van die jaar voorspel dat ten minste een stoeier met ‘n medalje by die SA’s sal wegstap.

“As mens onder druk stoei, is mens geneig om foute te begaan, maar ons sal aan die klein foutjies werk. Die jonger stoeiers word elke dag beter en mens stap nie net een dag hier in en verwag jy moet die beste wees nie,.Dit verg harde werk. Ek is baie trots op die manne!”

Die stoeiklub het Dinsdag reeds met ‘n klipharde oefenweek begin waar aan die manne se krag, kardio, fiksheid en tegniek gewerk word ter voorbereiding vir die volgende toernooi aan die einde van die jaar.

Sowat 100 stoeiers van regoor die land het aan die SA’s deelgeneem. Mpumalanga het derde in die GR- en tweede in die kadetafdeling gekom en 14 medaljes ingepalm.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button