Die Gryskatte is slaggereed om die Kiwi’s aan te vat
Groot opgewondenheid heers tans in die Gryskatkamp nadat die senior rugbyspelers van Lydenburg onlangs verneem het dat hulle einde volgende jaar Nieu-Seeland toe sal vertrek om hul rugbyvaardighede ten toon te stel.

Dié span, wat uit kranige senior rugbymanne bo die ouderdom van 35 jaar bestaan, is tans die enigste span van Suid-Afrika wat die land in die World Golden Oldies Rugbyfees in 2015 – ‘n gesogte internasionale toernooi wat elke twee jaar plaasvind – gaan verteenwoordig.
Golden Oldies Rugby bied aan die effens ouer garde die geleentheid om steeds die sport te geniet en fokus eerder op deelname en goeie sportmangees as die belangrikheid van wen. Alhoewel daar ‘n paar aanpassings ten opsigte van die spel gemaak word en hier en daar ‘n reël gebuig word, kry spelers steeds die geleentheid om hul rugbyvaardighede uit hul jong dae ten toon te stel.
Moet ook nie dink dis ‘n afgewaterde spul nie. Allermins. “Alhoewel ons nie kompeterend speel nie en dit eerder vir ons gaan oor die liefde van die sport, speel ons beslis nie om te verloor nie. Niemand hou van verloor nie en ons beslis ook nie,” vertel Tommie Adlam, voorsitter van die span.
Lees die volledige storie op www.steelbuger.co.za
