Deelnemers van oraloor speel hul harte uit tydens jaarlikse toernooi
KOMATIPOORT - Die 10de jaarlikse Kambaku Gholftoenooi vanaf 2 tot 5 Julie is met entoesiasme aangepak.

Gholfspelers is aan die praat oor dié klub in Komatipoort, wat besig is om een van die gewildste bane te word.
Roenel Basson, vroue-klubkaptein het vertel: “Die besondere Laeveld winterklimaat, bosveld-atmosfeer, pragtige uitsig op die Krugerwildtuin en daaglikse besoek van olifante, buffels, seekoeie en die roep van die visarend, was die perfekte agtergrond vir dietoernooi. Maandag het selfs ‘n luiperd sy verskyning voor die klubhuis kom maak.”
Die vier dag lange toernooi het voorsiening vir elke speler se voorkeure gemaak.
Twee dae was meer informeel toe die formaat van vierbal-alliansie en tweebal-beterbal gespeel is.
Die meer ernstige spelers het die volgende twee dae individuele Stableford en “medal” gespeel. Dit was egter die spyker in die doodskis vir sommiges. Almal het hul harte uitgespeel omdat hulle graag die unieke houttafel van oomSalidoor du Preez wat op die spel was, wou wen.
Daagliks was daar ‘n vol veld van 68 spelers wat deelgeneem het. Bekendes van sover as Richardsbaai, Vryheid, Pongola en Pecanwood het kom deel in die voorreg om aan hierdie gewilde toernooi deel te neem.
Daar is gesellig saamgekuier en ‘n opelug-masseersalon op die dek het gesorg vir die nodige nek-, skouer-, rug-, been- en voetmasserings na ‘n harde dag se gholf. Saans na die prysuitdelings is heerlike etes bedien. Saterdagaand was daar eg Mosambiekse vis en garnale op die spyskaart.
Sang en vermaak deur plaaslike en professionele sangers het daarna die voete laat jeuk.
Almal was dit eens dat die baan tans in ‘n uitstekende kondisie en die setperke lekker vinnig is.
Daar was groot waardering vir ‘n puik span van Rohan Greyvenstein, Juan de Villiers en Danielle Bosch, wat hulle werklik goed van hul taak gekwyt het. Verskeie boere, besighede en die hoofborg, ,Nu Leaf brands, het hulle hande diep in die sak gesteek en mildelik deur middel van finansiële bydraes, borge, pryse, of selfs mannekrag tot die sukses van die dag bygedra.
Die komitee se doelwit is bereik en almal is reeds weer besig met die beplanning vir Kambaku 2015.
Die uitslae is op www.corridorgazette beskikbaar.
